Liefdeslied uit die ‘Die Gelofte’ betree Top-20

Bernice West en Ilán van Staden tydens die verfilming van “Soen my op my mond” se musiekvideo. (Foto: @bernicewest/Instagram)

Dit blyk dat Die Gelofte-musiekblyspel se liedjies nie net ʼn treffer op die planke is nie, maar nou ook op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Bernice West en Ilán van Staden se lied “Soen my op my mond” maak vandeesweek sy toetrede tot die Top-20 as nommer 15. West en Van Staden vertolk die rolle van die jong verliefdes “Maria” en “Christiaan” in dié treffende musiekblyspel wat tot einde Mei by die AfriForum Teater in Pretoria te sien is.

“Soen my op my mond” is ook op die musiekblyspel se klankbaan beskikbaar.

Snotkop se “Tsek!” spring in sy eerste week op die trefferlys dadelik na die vyfde plek en immergewilde Lianie May is terug met haar splinternuwe lied, “Bietjie Benoni”, wat tans 20ste op die lys is.

“Kom ons wees eerlik, almal het ’n bietjie Benoni in hulle,” skerts dié gewilde sangeres oor haar eerste enkelsnit in byna sewe jaar.

Verder kraai Riaan Benadé en Jay se “Rowwe Bliksem” vir ʼn derde week steeds koning op die Top-20, terwyl twee snitte styg, nege daal en ses onveranderd bly.

  1. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem
  2. Eloff – Johnnie Blou
  3. Irene-Louise van Wyk – Tekkies brand
  4. Droomsindroom – Hey sonneblom
  5. Snotkop – Tsek!
  6. Riaan Benadé – Spontaan
  7. Brendan Peyper – Meisies soos jy
  8. Jo Black – Staan vas
  9. Dewald Wasserfall – Bedoel
  10. Rooksein – Genade nader
  11. Elandré – Hand aan hand
  12. Christia Visser – Handgranaat
  13. Ivan Roux – Opsoek na liefde
  14. Appel – Dina
  15. Bernice West & Ilán van Staden – Soen my op my mond
  16. Franja du Plessis – My lief
  17. Bernice West – Jona
  18. Spoegwolf – “Bring my geweer”
  19. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  20. Lianie May – “Bietjie Benoni”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Die Kontrak-naaswenner Ivan Roux se jongste enkelsnit, “Ek moes, ek wou, ek sou”, is pas bekendgestel en vertel die storie oor spyt wat altyd te laat kom. Dié lied is die tweede enkelsnit van Roux se nuwe album wat in Junie vanjaar vrygestel word.

Verder is Alba V se “Ek vat jou saam”, Deon Groot se “Toonstoot” en die broer-en-suster-duo Dagbreek se jongste enkelsnit, “Droomland”, ook nou beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.