Luister: 20-jarige debuteer as sanger, liedjieskrywer

Hanco (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hanco sing al van negejarige ouderdom, maar dit was eers onlangs dat een van sy grootste drome waar geword het: Hy het sy eerste kortalbum uitgebring.

Volgens Hanco (20) het hy sy liefde vir musiek by sy pa geërf en het hulle aande om gesit en luister na musiek – van Michael Jackson tot Laurika Rauch.

“My pa was mal oor musiek, en ons het altyd saam gesit en daarna geluister, al kon ek nog nie die woorde verstaan nie. Ek dink dít het my liefde vir musiek aangewakker,” het Hanco aan Maroela Media gesê.

Hanco kom van Tzaneen in Limpopo, maar woon tans in Pretoria. Hy neem al die afgelope vier jaar sanglesse by Rocking Voices en is ook ’n finalejaarstudent aan die South African Music Institute waar hy in komposisie, klavier en teorie spesialiseer.

Hanco hou daarvan om sy eie liedjies te skryf en vir hom is die beste gevoel om te sien hoe ’n gehoor op sy liedjies reageer.

“Ek wou nog altyd, van laerskool af, ’n album uitbring, maar ʼn mens kry mos maar nooit tyd daarvoor nie. Toe ek musiek begin studeer het, het ek ’n paar enkelsnitte geskryf en bymekaargesit.”

Die David Gresham-platemaatskappy het toe vir Hanco ’n kontrak aangebied. Hulle het daarna sy eerste sewe-snit kortalbum, Hou vas, uitgebring.

Al die liedjies in Hou vas kom uit Hanco se eie pen. Hy het reeds op skool liedjies begin skryf, en die kuns net verfyn soos hy ouer geword het.

Hanco (Foto: Verskaf)

“Hoe meer ʼn mens dit doen, hoe beter raak jy. Ek skryf al van kleins af liedjies. Ek dink mense het gedink ek is mal, want die melodieë het net na my toe gekom – so ek het al liedjies op laerskool en hoërskool geskryf. Ek het ook baie geleer toe ek musiek begin studeer het, en daardie aande wat ek alleen in my kamer sit saam met my klavier is maar hoe ek leer om dit te doen,” het hy gesê.

Die eerste enkelsnit in die album, ook met die titel “Hou vas”, het Hanco vir iemand spesiaal geskryf.

“Ek wou net sê: ‘Jy kan aan my vashou. Ek sal jou nie seermaak nie.’ Maar ek wil hê ander mense moet hul eie betekenis aan die liedjie heg, of hulle nou aan ʼn geliefde, hul drome of die Here wil vashou.”

Hanco het gesê hy skryf so baie oor die liefde, omdat dit is wat hy ervaar. “Daar is baie liefdevolle mense in my lewe. Ek en dink mens skryf maar oor wat jy ken. Ek is baie geseënd met baie liefde om my. Liefde is ook ʼn baie spesiale ding om oor te skryf, want die liefde is alles,” het hy gesê.

Hou vas sluit ʼn verskeidenheid van genres in en bevat Afrikaanse en Engelse musiek. Die album kan op Spotify afgelaai word.

Vir meer inligting oor Hanco besoek sy Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Breytie ·

1. Jy moet leer om regtig ernstig te wees oor die woorde wat jy sing.
2. Kry ‘n goeie sang leermeester.
3. Ondersoek jouself en vind uit wat wil jy regtig sê met jou aanbiedings. Waarvoor staan jy?, wat is jou boodskap?, presies wat is dit wat brand in jou wat jy in sang wil omskakel?
4. Kyk na binne en wees verskriklik eerlik: Waarom wil jy sing? As dit vir geld of roem is, kry vir jou ‘n ander doelstelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.