Luister: Beskeie Boerboel-model laat voete jeuk met skoffeltreffer

Khail West.

Khail West is veel meer as net ʼn blou-oog spiertier wat voor die kameras vir onder meer die klerehandelsmerk Boerboel Wear poseer.

Dié 25-jarige model is ook ʼn sakeman, digitale bemarkingsbestuurder en boer, wat homself ook agter die mikrofoon as sanger beywer.

Sy splinternuwe enkelsnit, “Honeymoon‑gevoel”, is onlangs uitgereik. Khail vertel in die Maroela Media-ateljee hy wou met dié liedjie luisteraars se voete laat jeuk.

“Toe ek die liedjie geskryf het, was ek vars in die verhouding waarin ek vandag steeds is, en ek wou met die lirieke die gevoel vasvang wat ʼn mens beleef wanneer ʼn verhouding nuut is.

“Tot dusver is die terugvoer oor die liedjie oorwegend positief en mense sê vir my hulle hou daarvan om op die liedjie te dans. Dit is presies wat ek met die liedjie wou bereik.”

Khail West.

Khail is ʼn gebore Namakwalander wat hom in die Jakarandastad gevestig het. Hy verklap dat West net die van is wat hy op die verhoog gebruik. Sy regte naam is Khail Kotzenberg.

“Namakwaland is aan die Weskus, en my gunsteling-musiek is country‑musiek, wat in die weste van die VSA ontstaan het. Daarom het ek my verhoognaam, Khail West, daarvan afgelei,” verklap hy.

Hy het op ʼn plaas grootgeword waar daar met rooibostee geboer en Arabier-perde geteel word, maar hy het ook nog altyd ʼn voorliefde vir musiek en avontuur gehad.

Oor sy passie vir sake en musiek praat hy gemaklik, maar oor sy modelwerk is hy veel meer beskeie. “Ek kyk na my liggaam vir my gesondheid eerder as vir my voorkoms en aanvaar komplimente moeilik, al is ek ʼn ekstrovert,” lag hy.

Khail wys sy spiere in die musiekvideo vir “Honeymoon‑gevoel”. “Ons wou met die video iets anders bied, iets wat nie alledaags te sien is nie. Ons het met die konsep vorendag gekom van die beelde wat alles in my kop afspeel. Ons het met die beligting gespeel om die atmosfeer te skep en die teenstrydige emosies uit te beeld.”

“Honeymoon‑gevoel” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Khail West.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Honeymoon‑gevoel”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.