Luister: Borrelende Sharoney bly ʼn plaasnooi

Sharoney kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Die sangeres Sharoney is van aangesig tot aangesig nét so ʼn borrelende bondel energie soos wat sy in die musiekvideo van haar jongste enkelsnit, “21 Vir Ewig”, is.

Pols jy haar oor die meer volwasse klank van dié snit, vertel sy dat sy lus was om iets anders op te neem as waaraan haar luisteraars gewoond is.

“Ek dink ek is nou op ʼn plek waar ek meer in voeling kom met waarvan ek hou, waarvan ek meer wil hoor en waarvan ek self meer wil sing,” sê die 24-jarige blondekop in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek het self soveel gegroei as mens en ek wou dit in my musiek ook wys.”

Jattie de Beer van die Aitsa- en Ghoema-bekroonde musiekgroep Douvoordag het die liedjie vir Sharoney geskryf.

“Hy het so ʼn kreatiewe brein dat hy dadelik verstaan het toe ek vir hom verwysings stuur van wat ek wou hoor. Hy het vir my ‘21 Vir Ewig’ aangestuur en ek was weggeblaas. Dit was presies wat ek wou hoor en ek kon nie glo hy was so akkuraat nie!” vertel sy.

Sharoney sê sy glo almal kan aanklank by die liedjie vind. “Die titel sê alles. Ek dink as jy ʼn ouderdom kon kies om vir ewig te wees, is dit 21. Jy is nie heeltemal ʼn tiener of ʼn kind nie, maar jy is ook nog nie heeltemal ʼn volwassene nie. Die lewe is ʼn oester vir jou; jy weet nie heeltemal wat vir jou wag nie, maar jy is jonk genoeg om dinge te beproef en die waters te toets.”

In die borrelgom-musiekvideo verruil Sharoney haar blonde lokke vir ʼn pienk pruik en dans sy en ʼn groep dansers in verskeie uitrustings.

“Die konsep vir die video het baie tyd en harde werk geverg, want dit is heeltemal iets nuuts. Ons moes plekke vind om te skiet en uitrustings en al die res bymekaar sit. Nóg ek nóg my kameraspan het al ooit so iets gedoen, so dit was vir ons almal iets nuuts.”

Sharoney, wat afkomstig is van Springs aan die Oos-Rand van Gauteng, sê sy was reeds van kindsbeen af versot op sang en drama en hoewel drama eens die voortou geneem het, het sy op die ouderdom van 16 besef sy wil die res van haar lewe aan ʼn sangloopbaan toewy.

“Ek het nooit geweet hoe ek dit gaan laat werk nie, maar dit het in my skoot geval toe die groep ADAM in my dorp kom sing het en ek die voorvertoning moes doen. Ek het nie gedink iets gaan daarvan kom nie,” sê sy.

Die Maandag ná die vertoning het sy egter ʼn onverwagse oproep van Hugo Ludik, sanger vir die groep ADAM en bekende musikant en liedjieskrywer, ontvang wat die bal aan die rol gesit het vir haar loopbaan as sangeres.

“My ouers het altyd gesê as ek wil sing vir ʼn lewe moet ek kan bewys ek kan dit doen voordat ek matriek voltooi, en ek het!” lag sy.

Sy voeg by dat sy ʼn plaasnooi in haar hart is wat elke geleentheid aangryp om hul familie se plaas op Vaalwater te besoek.

“Wanneer ek nie sing oor ʼn naweek nie, geniet ek dit om kaalvoet op die plaas rond te loop. Dit is nodig om soms net weer te gaan mens raak op die plaas.”

“21 Vir Ewig” is beskikbaar op alle digitale musiekplatforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.