Luister: Cordelia oor ‘hoendervleis-ervaring’ wat nuwe enkelsnit inspireer

Cordelia. (Foto: Rynardt Raubenheimer)

As ma van ʼn vierjarige woelwaterseuntjie was die sangeres Cordelia onlangs tot stilstand geruk deur die nuus van die afsterwe van ʼn dogtertjie met terminale kanker met wie sy as ambassadeur vir die Arms of Mercy-organisasie ʼn lang pad voor haar dood gestap het.

Sy vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media sy was op die hoofweg onderweg na die Coleske Artists-ateljee in Pretoria om saam met Riana Nel aan haar nuwe album te werk toe sy die skoknuus ontvang het.

“Ek het die dogtertjie die vorige dag nog vasgehou. Die pappa van die dogtertjie het my gebel en hy was stukkend. Ek het van die pad af getrek en ek het gebreek vir die ouers – ek het my kop op die stuurwiel laat sak en gehuil.”

Die sangeres vertel sy het gebid en vir die Here gesê sy gee alles om die siek kinders te help, maar dat sy nie kan staande bly wanneer dit nie God se wil is vir hulle om te herstel nie.

Cordelia sê dit was in daardie oomblik dat sy vir die eerste keer in haar lewe God se stem gehoor het. “Ek het al baie God se hand in my lewe gesien, maar het nog nooit sy stem gehoor nie. En terwyl ek daar met my kop op die stuurwiel lê en snik, het ʼn trok verby my gery en die motor het geruk. Ek het God hoor sê: ‘My opdrag aan jou was nooit om staande te bly nie, maar om op jou knieë te bly’.”

Dit was dié hoendervleis-ervaring wat in die ateljee haar jongste enkelsnitvrystelling, “Op my knieë”, geïnspireer het. “Ek het agter die klavier ingeskuif en die lirieke van die inleiding: ‘Op my knieë is U genade vir my genoeg’ het net by my uitgevloei. Riana het gehelp met die strukture van die liedjie en Paulo Azevedo het hand bygesit met die vervaardiging.”

Die Suid-Afrikaanse musiekvervaardiger Byron Kuntz, wat tans in Australië bly, het die liedjie vervaardig.

“Ek het net weereens besef dat ʼn mens beplanning kan doen, maar die Here se tydsberekening is perfek en dat God beskik.”

Sy sê die terugvoer wat sy oor die liedjie kry, is presies wat sy deur die liedjie wou bereik – om mense aan te raak wat na God in hulle lewens hunker.

“’n Jong Namakwalandse meisie het vir my ʼn boodskap op Facebook gestuur waarin sy sê dat sy die pad byster geraak het en van God vergeet het. Die liedjie het haar egter weer gehelp om te herenig met God en haar verhouding met Hom.

“Ek het ook onlangs by ʼn dame se verjaarsdagpartytjie opgetree. Sy het onlangs haar dogter aan die dood afgestaan en het gesê die liedjie het haar deurgedra in dié moeilike tyd,” vertel Cordelia.

“Ek is net ʼn instrument van God. Net omdat ek ʼn kommersiële sangeres is beteken dit nie dat ek nie ʼn gospel-boodskap kan uitdra in my musiek nie. Dit is vir my wonderlik om sulke positiewe boodskappe oor die liedjie te kry.”

Cordelia verklap dat sy tydens die inperking saam met Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, ʼn sportmaatskappy op die been gebring wat sportspanne van enige aard help om in die buiteland aan toernooie deel te neem en sodoende Suid-Afrikaanse sportwese internasionaal te bevorder.

“As dit nie vir die inperking was nie, sou ek nooit hierby betrokke geraak het nie; so ek is baie dankbaar vir die geleentheid. Mense en events is my kos en dit is heeltemal iets anders as wat ek die afgelope agt jaar gedoen het. Ek is vanjaar al agt jaar in die Afrikaanse musiekbedryf, maar ek kan nie glo dit is al so lank nie.”

“Op my knieë” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

  • Luister na die volledige ateljeeonderhoud bo-aan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.