Luister: Danny Smoke voltooi legkaart met nuwe musiekvideo

Danmu Smoke (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Danny Smoke het onlangs sy jongste enkelsnit en musiekvideo vir “Gaan ons inlê” bekendgestel en daarin voltooi hy die legkaart wat hy vir die afgelope twee enkelsnitte gebou het.

In Danny se vorige twee musiekvideo’s vir “Soek jy aandag of soek jy my lyf?” en “T-shirt” kon aanhangers sien hoe hy ʼn meisie ontmoet en daarna ʼn heerlike vakansie saam geniet. In die finale musiekvideo ontmoet hulle mekaar weer by ʼn konsert ná hul paaie geskei het.

“Die musiekvideo’s van my laaste drie liedjies volg op mekaar. Ek wou so gou moontlik soveel moontlik inhoud vir mense beskikbaar stel, sodat hulle my gesig kan leer ken.”

Danny het toe die drie musiekvideo’s geskiet met dieselfde beeldmateriaal, maar wat steeds elke keer iets nuuts by die storie byvoeg.

“Ek speel ʼn musikant wat moeg is vir sy alledaagse lewe en dan die pad vat Mosambiek toe, en so ontmoet hy hierdie meisie langs die pad. Hulle raak verlief in die loop van die drie musiekvideo’s.

“Die idee daaragter is om ʼn storie te vertel en as jy drie liedjies het om dit te doen, het jy lekker baie tyd,” sê Danny.

Danny vertel dat “Gaan ons inlê” oor nuwe liefde en daardie skoenlappers-in-die-maag-gevoel gaan.

“Dit gaan oor die magic van splinternuwe vinnige liefde en die opgewondenheid wat daarmee gepaardgaan. As jy iemand nuut ontmoet, wil jy altyd jou beste voetjie voorsit – daardie wittebroodfase.

“Dit gaan oor daardie oomblik wat jy net nie wil hê moet verbygaan nie, en dié liedjie vra vir die laaste keer: ‘Asseblief, moenie dat hierdie oomblik weggaan nie’.”

Danny het vroeër aan Maroela Media vertel dat sy debuutalbum, Swaeltjies, wat dié liedjie insluit ʼn album is met popmusiek waarop ʼn mens kan partytjie hou en dans.

Danny Smoke (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Danny was vroeër meer bekend as musiekvervaardiger en kitaarspeler vir talle bekende sangers, en hy het eers met Swaeltjies sy sangtalent begin wys.

“Dit was aanvanklik vreeslik senutergend, maar nou is dit vir my cool. Dit raak vir my lekker, noudat mense my musiek leer ken. Die beste deel is dat mense nou by ʼn vertoning begin saamsing as ek optree.

“Ek leer nou waardeur sangers gaan en het meer respek vir hulle as voorheen. Ek sien hoe hard hulle werk,” sê hy.

“Gaan ons inlê” is op alle digitale platforms beskikbaar, asook in musiekwinkels. Vir meer inligting besoek Danny Smoke se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.