Luister: Elizma Theron sing oor ʼn man so na haar hart

Elizma Theron. (Foto: Verskaf)

Vier jaar gelede het Elizma Theron se album Hierdie hart brand liefde die plek waar sy haarself bevind het in haar persoonlike lewe direk beskryf: ʼn positiewe ruimte waar sy floreer en gelukkiger is as ooit vantevore.

Dié slag fokus Elizma se splinternuwe, opgewekte enkelsnit, “Man so na my hart”, op die man met wie sy haar lewe deel. Nico is ʼn helikoptervlieënier met wie sy in November 2012 getroud is.

Elizma vertel in Maroela Media se ateljee sy het ʼn hiatus van vier jaar geneem om haar toe te spits op moederskap en hul twee spruite, Eli-zé (9) en NJ (7), wat vanjaar gr. 1 toe is.

“Dit is baie emosioneel om te sien hoe vinnig NJ grootword. Dit is so ʼn groot fees om te sien hoe sy persoonlikheid ontwikkel. Hy was nog altyd sy mamma se seuntjie, maar ek kom agter hoe hy homself verkyk aan sy pa.

“Ek sien hoe NJ vir my en sy sussie hanteer soos wat Nico my hanteer. Daarom sal ek vir NJ met liefde ʼn bietjie leisels gee om Pappa s’n te wees vir ʼn rukkie,” lag sy.

Elizma Theron. (Foto: Verskaf)

“Man so na my hart” is geskryf deur Brendan Peyper en Don Kelly en Elizma het self die liedjie afgerond.

“Ná ʼn stilte van vier jaar het mense begin vra vir nuwe musiek. Enige kunstenaar sal vir jou sê as die gogga jou eers gebyt het en as die passie vir musiek eers daar is, is dit nie iets wat jy sommer kan agterlaat nie.

“Ek wou egter nie sommer net enige liedjie uitbring nie en toe dié een oor my pad kom, het ek geweet dit is die regte liedjie vir my. Dit is gesinsvriendelik en positief en net wat mense nou nodig het.”

Vandat sy ʼn klein dogtertjie was, het haar ma haar dit op die hart gelê hoe belangrik dit is om te bid vir die regte man.

Elizma Theron en haar man, Nico. (Foto: Facebook/Elizma Theron)

“Nico laat my lag en laat my toe om myself te wees. Mense skaaf aan mekaar, maar hy doen dit sonder om die elemente wat my uniek maak te probeer uitvee. Ek hoop ek doen dieselfde vir hom,” sê die blondekop sangeres.

“Soos enige ander dogtertjie het jy idees in jou kop van hoe hy gaan lyk, maar dis nie noodwendig die persoon oor wie jy gedroom het of wat jy wil hê wat die regte een is vir jou nie. Dit is gewoonlik eerder die persoon wat jy nodig het, wat oor jou pad gestuur word.

“Nico is natuurlik vir my verskriklik aantreklik en het baie kwaliteite wat ek nog altyd wou hê in ʼn man, maar soos wat die jare verloop, besef ek hy het ook kwaliteite wat ek nog altyd nodig gehad het in ʼn man sonder dat ek dit besef het.”

“Man so na my hart” is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Elizma Theron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.