Luister: Esté Gross sê met snit ‘Sy genade is genoeg’

Esté Gross. (Foto: Esté Gross/Facebook)

Esté Gross se bekende geselsstem weerklink al jare oor die draadloos. Dié stem, wat gereeld saam met Suid-Afrikaners in hul sitkamers en motors kuier, word ook elke nou en dan aangewend om Esté se heuning-sangstem ten toon te stel.

“Weerklink”, haar jongste enkelsnit, is ’n liedjie uit haar eie pen en weerspieël ’n diep behoefte om in God se teenwoordigheid te wees en sy nabyheid te ervaar.

“Sy genade is vir ons genoeg. Al die uitdagings wat die lewe na jou kant toe gooi is oorkombaar en hanteerbaar met die Here wat by jou is,” vertel Esté.

Dít is juis die boodskap wat sy met die nuwe liedjie wil versprei.

“Dit was ’n gesprek wat ek met die Here voor die klavier gevoer het.”

Hoewel sy deur jare heen bekendheid verwerf het in die uitsaaibedryf, is die pad wat sy met musiek stap, eintlik veel langer.

Esté het sedert die ouderdom van 14 opleiding in klassieke musiek gekry en was ook in haar tienerjare deel van die gesogte wêreldjeugkoor. Sy het later musiek begin skryf en uitreik.

“Mense vanuit my skooldae was nie so verbaas om te hoor van die sang nie, maar meer onkant gevang om te hoor dat ek ’n omroeper is.”

Esté was vir nege jaar agter die uitsaai-mikrofoon by RSG doenig voordat sy vroeg in 2022 ’n loopbaanskuif na Pretoria FM gemaak het. Sedertdien, het sy ’n geselsprogram oor klassieke musiek, Wat’s nuut, dis klassiek, by Pretoria FM op die been gebring. Sy is trots op die groei en ontwikkeling waarvan sy die afgelope jaar by dié radiostasie kon deel wees.

“Ek is baie opgewonde saam met die span oor wat ons in ʼn jaar kon vermag. Dit is alles te danke aan ʼn klein span wat nou saam werk en opgewonde oor die toekoms is.”

Haar liefde vir die uitsaaiwese beskryf sy as ’n saadjie wat in haar grootwordjare deur jaar boetie in haar hart geplant is. Hy het vir haar gesê dat sy haarself goed van ’n radio-omroeperstaak sal kwyt, woorde wat Esté nooit vergeet het nie.

Sy het nog altyd ’n heldeverering vir nuuslesers soos Riaan Cruywagen, Mariëtta Kruger en Suzaan Steyn gehad.

“Ek het selfs op die ouderdom van tien ’n nuusbulletin vir die klas gelees, omdat dit my so gefassineer het.

“Dit is vir my ’n kunsvorm om ’n nuusbulletin korrek te kan lees.”

Vir Esté lyk die toekoms van die radiowese rooskleurig. Mense se behoefte om deur middel van dié regstreekse medium met ’n ander persoon te kuier, gaan nooit wegkwyn nie.

“Daar is net iets anders aan ʼn regstreekse uitsending as ʼn stroomdiens. Ja, ons het nou die opsie om na musiekspeellyste te luister.

“Maar waar is die warmte? Waar is die mens wat jou geselskap hou?”

  • Luister boaan na ’n volledige klankonderhoud met Esté Gross.
  • Kyk na die musiekvideo van “Weerklink” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Este, jy het ‘n ongelooflike goeie stem. Jy moet meer sing. Dit is dalk nie jou genre nie, maar jy sal opgeraap word in die New Classical Metal industrie in Europa, waar groepe soos Within Temptation en Nightwish baie gewild is. Ons musiek in SA is dekades agter die tyd. Ons is vasgevang met sokkie bokkie my baby musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.