Luister: Liza Nel terug op musiektoneel ná lang stilte

Liza Nel kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Liza Nel, voorheen bekend as Liza Brönner, het een oggend opgestaan en besluit sy is gereed om weer die Afrikaanse musiekbedryf sonder handskoene aan te pak.

Liza het die afgelope paar jaar by die huis na haar en haar man, Ricus Nel, bekende sanger en liedjieskrywer, se twee jong spruite omgesien.

Haar splinternuwe Afrikaanse enkelsnit, “My bok”, het onlangs die radiogolwe getref en word goed deur luisteraars ontvang. Ricus verskyn ook saam met haar in die prettige musiekvideo, wat reeds sowat 86 000 kykbeurte op YouTube het.

Hulle twee spruite, onderskeidelik amper 2 en 5 jaar oud, is egter nou groot genoeg sodat Mamma weer haar passie vir musiek kan uitleef, vertel Liza in Maroela Media se ateljee.

“Ek voel my kinders is nou so bietjie meer uit my hande uit, al is hulle nog klein. Ek het net besluit ek is nou weer reg vir die ding en lus om ʼn nuwe liedjie te maak. Ricus het my dadelik ondersteun en gevra hoe hy kan help.”

Ricus het vir Liza in verbinding met Hugo Ludik van die befaamde Muse Studios gesit, waar hy en Nick Jordaan uiteindelik saam met Liza aan “My bok” gewerk het.

Muse Studios is bekend vir die skryf en vervaardiging van ʼn hele rits Afrikaanse snitte, soos Eloff se “Witblits”, Barto se “Impulsief” en Caroline Grace se “Bokswyn”.

Liza Nel. (Foto: Christian Wolf)

Volgens Liza beskryf die lirieke Ricus net soos hy is. “Hy doen die verkeerde goed, maar op die oulikste manier. Soos om my Spur toe te vat vir ʼn afspraak, maar eintlik wil hy net die rugby daar gaan kyk.”

Sy verklap dat sy en Ricus ter viering van hulle tiende huweliksherdenking in Frankryk gaan uitspan – en sommer ʼn rugbywedstryd of twee ook as deel van die reis gaan inwerk.

“Dit is verskriklik romanties en ek verbeel myself dat ons gaan sjampanje drink onder die Eiffeltoring, maar hy het my duidelik laat verstaan dat ek net moet onthou dit is die Rugbywêreldbeker en hy gaan beslis rugby kyk.

“Dit is sulke tipe goed wat maak dat ek so lief is vir hom, en dit is waaroor die liedjie gaan.”

Sy vertel sy het sowat agt jaar laas nuwe musiek uitgereik en bieg dat sy soos ʼn nuweling in die bedryf voel, aangesien so baie in die bedryf vernuwe en verander het.

“Ek was so senuweeagtig die dag toe ek die liedjie moes gaan opneem, ek het amper nie asemgehaal nie. Hugo en Nick het my so goed ondersteun en bygestaan en my op my gemak gemaak.

“Ek het regtig ʼn ongelooflike span mense agter my waarvoor ek so dankbaar is. Laas toe ek gesing het was daar nie goed soos TikTok en Instagram nie, en ek het eintlik nie ʼn idee hoe dit werk nie. Intussen was ek ʼn mamma en was ek regtig uit die ding uit, maar ek is so dankbaar vir my span wat my ondersteun in dié projek.”

Sy vertel dit was ʼn hoogtepunt om saam met Ricus aan die musiekvideo te werk. “Dit was so speels, en mense sê vir my hulle kan sien ek het regtig gelag, en dit is presies reg. Ek het regtig gelag vir Ricus, want hy is vir my net skreeusnaaks.”

“My bok” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Liza Nel.

Maroela Media het Liza se “Bok-kennis” getoets, kyk hier:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Toe hierdie liedjie sowat 20 jaar gelede vrygestel was, het ons dit nogal baie geluister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.