Luister: Orkes-maestro wat skole laat skitter

Eddie Clayton het in Maroela Media se ateljee kom kuier.

“Ek is baie trots op my kinders. Om met jong musikante te werk, is een van die groot vreugdes in my lewe,” vertel Eddie Clayton in ʼn onderhoud in Maroela Media se ateljee.

Eddie, ʼn Naledi-bekroonde musikale regisseur, dirigent, musiekverwerker en komponis, se loopbaan in die musiekwêreld strek oor drie dekades. Hy het begin as seniordirigent van die weermag se seremoniële orkes, waar hy 14 jaar betrokke was.

Daarna het Eddie vir bykans ʼn dekade in musiekteater gewerk voordat hy koers in die orkesrigting gekies het. Hy het destyds saam met Deon Opperman musiekblyspele gedoen, onder meer “The Sound of Music” waarin Steve Hofmeyr die rol van kapt. Von Trapp vertolk het, “My Fair Lady” en “Tree aan!”.

Eddie is in 2012 met ʼn Naledi-teaterprys vir beste musikale regisseur vir “Tree aan!” bekroon. “Daardie produksie is een van die hoogtepunte van my loopbaan. Ek dink dit is omdat ek self in die weermag was en my ervaring daarvan kon gebruik om die akteurs te lei.”

Die orkes speel onder leiding van Eddie Clayton by die regstreekse ‘U eie keuse’-konsert. (Foto: August Photography)

Hy het sedertdien groot en bekende konserte gedirigeer, soos Huisgenoot Skouspel, Classics is groot, Disney 100 – The Concert en ʼn regstreekse konsert van U eie keuse wat ter viering van RSG se 85ste bestaansjaar aangebied is.

Eddie is ook die man agter nege skool- en jeugorkeste wat tydens verskeie geleenthede sukses behaal het, en hy gee tussendeur musiekles in verskeie instrumente.

Dit is ʼn mondvol, maar min of meer in ʼn neutedop hoe Eddie 2023 ervaar het.

“Vanjaar was die eerste keer vandat die Covid-19-pandemie uitgebreek het, dat ons normaal kon funksioneer. Inteendeel, ek en my vrou, Zita, was nog nooit in ons lewe so besig nie. Dit was ʼn fantastiese jaar.”

Eddie en die sangeres Zita het in Desember 2018 stil-stil op Oukersaand getrou. Dié egpaar het intussen twee spruite ryker geword en Eddie hoop om in 2024 meer tyd saam met sy gesin deur te bring.

“Dit is geweldig moeilik om ʼn balans tussen my werk en gesinslewe te vind. Ons sien mekaar baie keer op ʼn Sondagaand wanneer ons almal saam aandete eet, en dan eers weer aan die einde van die week. Omdat ek so besig is, leef ons verby mekaar.

“My skedule verskil effens van iemand anders sʼn wat van 08:00 tot 17:00 werk, en al sien ek my kinders op ander tye, bly dit moeilik. Daarom wil ek my gesin in 2024 prioritiseer en meer tyd saam met hulle deurbring.”

Dit begin met ʼn wonderlike huisvakansie wat vir hulle voorlê en waaroor Eddie verskriklik opgewonde is.

‘n Skermgreep uit die video van die AHMP-orkes.

Dié skole skitter danksy Eddie

Eddie se betrokkenheid by skool- en jeugorkeste kom al ʼn paar jaar aan. Hy rig al vir 11 jaar die jeugsimfonieorkes van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) af en hy is ook vir die afgelope sewe jaar by Hoërskool Waterkloof in Pretoria se konsertorkes betrokke.

ʼn Hoogtepunt van Eddie se jaar is ʼn optrede by Oranje Meisies Hoër in Bloemfontein waar beurtkrag die saal en die verhoog in donkerte gehul het tydens die AHMP-orkes se vertolking van Ennio Morricone se “Gabriel’s Oboe” uit die rolprent The Mission.

Maroela Media het berig dat dié orkes te midde van ʼn pikdonker saal sonder enige onderbreking aanhou speel het.

“Affies-meisies se orkes is my hart se punt. Hulle het soos engele aanhou speel toe die krag tydens hulle optrede in Bloemfontein afgegaan het. Ek is verskriklik trots op hulle.”

Waterkloof se konsertorkes (Foto verskaf)

Onder Eddie se leiding het Hoërskool Waterkloof se konsertorkes vanjaar die tweede plek verower in die Symphonia Nasionale Skoleorkesfees en -kompetisie in George. “Die Klofie-orkes is in ʼn ander klas. Hulle is regtig fenomenaal.”

Ander orkeste wat onder sy leiding floreer, is Simfonia Juventi, die Johannesburgse Jeugorkes, die Johannesburgse Simfonieorkes, Pretoria Boys’ High School, St. Stithians College – ʼn privaat Engelse skool in Sandton, en Cornwall Hill College in Centurion se junior en senior orkeste.

“Volgende jaar gaan effens anders wees weens my besluit om af te skaal. So ek gaan twee minder orkeste afrig, maar dit is beter so. Ek word nie enigsins jonger nie,” skerts Eddie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.