Video: ‘Hoendervel-oomblik’ toe skoolorkes besluit basta met beurtkrag

‘n Skermgreep uit die video van die AHMP-orkes wat nie ‘n noot tydens ‘n uitvoering mis nie al is die saal waar hulle optree pikdonker weens beurtkrag.

Daar is min internasionale orkeste, musikante en sangers wat die jeugsimfonieorkes van Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) in Pretoria sou kon nadoen. Nie eens ʼn kragonderbreking het dié orkes Donderdagaand  ʼn noot laat mis nie.

Tydens ʼn optrede by Oranje Meisies Hoër in Bloemfontein het beurtkrag die saal en die verhoog in donkerte gehul tydens die AHMP-orkes se vertolking van Ennio Morricone se “Gabriel’s Oboe” uit die rolprent The Mission.

In die pikdonker het die orkes egter nie ʼn oomblik gehuiwer nie en sonder enige onderbreking voortgegaan met ʼn sielvolle vertolking van dié musiekstuk.

“Dit was ʼn ongelooflike oomblik in my lewe, persoonlik; ook in dié van die meisies van die orkes,” sê Eddie Clayton, dirigent van die orkes. “Gewoonlik sal ʼn orkes stop en wag vir die ligte om aan te kom, maar nie dié meisies nie.

“Hulle het regdeur die donker aanhou speel sonder om ʼn oog te knip – en dit is juis so ʼn mooi stuk musiek.”

In ʼn video-opname van die uitvoering sien ʼn mens hoe die gehoor een vir een hul selfoonliggies aanskakel om lig vir die orkeslede te maak. Kort voor lank flonker die saal met ʼn see van liggies terwyl die orkes eenvoudig net voort speel.

Leerders van Oranje Hoër het ook met hul selfoonliggies vir die orkes op die verhoog lig gemaak.

“Hulle het tot aan die einde gespeel sonder om ʼn noot te mis. Die gehoor het eenvoudig ontplof aan die einde van die uitvoering,” vertel hy. “Dit was ʼn bietjie van ʼn ‘vat so, Eskom!’-oomblik. Ek is verskriklik trots op hierdie meisies – dit was ʼn wêreldklas optrede.”

Clayton sê toe die kragopwekker inskop en die ligte weer aangaan was elke orkeslid in trane, en hy ook. “Dit was ʼn behoorlike traanfees.

“As iemand wat met musiek werk, leef ek vir besonderse musikale oomblikke – en ek kan ʼn boek skryf oor die oomblikke wat ek al beleef het – maar ʼn oomblik soos dié van gisteraand steek kop en skouer bo enige van die ander uit,” vertel Clayton trots aan Maroela Media.

Johanni Wolmarans, die orkeskomitee se voorsitter en hobo-solis in dié musiekstuk, kan ook nie uitgepraat raak oor die groot oomblik waarvan sy deel kon wees nie.

“Uiteindelik is ons orkes almal maar net ʼn instrument in God se hande. Dit was vir ons ʼn voorreg om vir die gehoor ʼn stukkie van sy liefde te kon wys ten spyte van beurtkrag.”

Afrikaanse Hoër Meisieskool en Oranje Meisies Hoër hou jaarliks ʼn gesamentlike derby waartydens die skole in kultuur- en sportaktiwiteite op vriendskaplike vlak teen mekaar deelneem en saam optree. Die derby word jaarliks om die beurt by die twee skole gehou, en sorg vir groot hoogtepunte deur dié twee topskole se kultuur- en sportpresteerders. Ander orkeste wat aan gisteraand se konsert deelgeneem het, was dié van Eunice, Indomitus, Con Spirito en Take Note.

Die AHMP-skoolhoof, Marna Jordaan, het ook haar trots uitgespreek oor die orkes wat hulle so goed van hul taak gekwyt het. “Die klanke van ‘Gabriel’s Oboe’ in die donker saal met Johani as solis in die donker saal was sielsmooi,” vertel sy. “Die gehoor was meegevoer… Nog nooit het ek so ʼn hartvervullende oomblik beleef nie. Niemand was onaangeraak nie. ʼn Goddelike oomblik in tyd.”

“Ek is só trots en só dankbaar vir hierdie ongelooflike groep dogters,” sê Barbara Wiese, koororganiseerder. “Met hulle gaan ek oorlog toe!”

“Dit was ʼn hoendervel-oomblik,” sê Hannelie Thuynsma, een van die orkeslede se ma’s en ook ʼn onderwyseres by AHMP, wat die video geneem het.

AHMP se orkes is vroeër vandeesweek aangewys as kategoriewenner in die orkes-afdeling van die Pretoria Eisteddfod.

Beleef die oomblik en kyk hier na die video van die uitvoering:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Maria. M. ·

Dit wil gedoen word, so trots op julle almal…….maak my Afrikaner hart vinniger klop.

Wielspore ·

Puik, afrikaners het maar net die talent om ‘n slegte situasie te omskep in iets beter. Wel gedaan.

Vonkprop ·

Kyk dit was fantasties gewees, en kom ons wees eerlik, loadshedding het hierdie aand eintlik ‘n guns gedoen , want toe die verhoog skielik met honderde selfoonliggies belig word en die kamera draai om, het dit gelyk soos sterre wat op hierdie jong talentvolle orkeslede skyn. Bravo!!!

Delia ·

Ek dink ons moet seker maar almal nerens heengaan meer sonder n ou flitsliggie in jou handsakkie nie. Wow….

Danie ·

Verligte ligte meisies verlig die aand se donkerte, geborg deur die donker, met ‘n ligte gemoed en uitstekende vertoning van vasberadenheid…

My siening ·

Bravo! ANC sou nie so kon dink nie, pragtig die land is trots op julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.