Luister: Stef Bos se ‘Papa’ is immergroen

Stef Bos kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout)

Een van Stef Bos se eerste enkelsnitte, “Papa”, wat in 1990 uitgereik is, het nie net vir hom die weg as kunstenaar in die musiekwêreld gebaan nie.

Die lied het oor die jare ook ʼn lewe van sy eie aangeneem en saam met Stef ontwikkel soos wat hy verskillende lewensfases beleef het.

Dié Nederlandse sanger en liedjieskrywer, wat ewe tuis in Suid-Afrika is, het in Maroela Media se ateljee gesê dat “Papa” as ʼn liefdesbrief aan sy pa geskryf is. Toe Stef later jare self ʼn pa geword het, het hy skielik met ander oë na die lirieke gekyk.

“Die hele konsep van hierdie liedjie het ʼn dieper betekenis gekry. Ek het nie meer net die verwysingsraamwerk van die seun gehad nie, maar ook dié van ʼn pa.

“Van daardie oomblik af sing jy so liedjie uiteraard anders omdat jy dit van twee kante af beskou. Soos wat my pa vir my ʼn spieël was, is my seun ook nou ʼn spieël waarin ek my eie vermoëns en onvermoëns raaksien.”

Nóg Stef nóg sy platemaatskappy het voorspel dat “Papa” meer as 30 jaar later ʼn immergroen treffer sou wees. Die enkelsnit het in Stef se debuutalbum Is dit nu later verskyn en is vandag nog ʼn onlosmaaklike deel van sy musiek.

“Dit was destyds byna onmiddellik ʼn treffer, en ek het dit glad nie sien kom nie. Die platemaatskappy het dit ook nie verwag nie. Hulle het eintlik gesê die lirieke is te moeilik en dat die liedjie nie gaan nie werk nie.

“‘Papa’ het my lewe totaal verander, en ek is so bly dat dit die liedjie is waarmee ek my deurbraak gemaak het. Ek sing dit vandag nog so graag.”

Benewens die sukses van hierdie lied en die invloed wat dit op Stef se lewe gehad het, het sy vriendskap met Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel, ook ʼn groot bydrae gelewer.

Was dit nie vir Stef en Ralph se paaie wat in die vroeë negentigs gekruis het nie, het Stef se bekoring met Suid-Afrika en Afrikaans dalk nie ontwikkel nie, of miskien nie so vroeg so sterk na vore gekom nie.

Dit het begin toe Rabie se “Hillbrow”, wat in die laat tagtigs uitgereik is, ook ʼn groot treffer in België geraak het. Toe Stef die lied op die radio hoor, was sy belangstelling dadelik geprikkel. “Die liedjie was so pragtig, dit het soos ʼn psalm geklink en ek was nuuskierig daaroor.

“ʼn Ruk later het ek en Ralph mekaar een aand in Antwerpen ontmoet en die moment was soos ʼn stroom waarin jy spring en jy geen beheer het oor waarheen dit jou neem nie. Dit is waar dit begin het: Ralph se “Hillbrow” en sy vriendskap het my by die Afrikaanse kultuur ingetrek.”

Stef het kort daarna Suid-Afrika toe gekom, en hy was onmiddellik gefassineer deur dié land “met al sy moontlikhede, moeilikheid, skoonheid en lelikheid”.

“Afrikaans het nog altyd ʼn rol hierin gespeel. Ek het nooit geweet dat ek drie kinders sou hê wie se moedertaal Afrikaans is nie of dat ek met ʼn Afrikaanse nooi sou trou nie.

“Die liefde vir my ma se taal sien en ervaar ek ook in Afrikaans. Dit is vir my ongelooflik inspirerend om hier te wees. Mense wonder dalk seker wat ek in Suid-Afrika maak, maar dit is vir my ʼn moeilike, mooie, oneindige, pragtige, problematiese land.”

Stef se dagboek is propvol, veral met besprekings vir optredes in die buiteland, maar tog wil hy hierdie jaar tyd neem om te besin.

“Ek is besig om terug te kyk, maar ek is ook altyd besig om vooruit te dink. Af en toe moet jy tyd neem om stil te staan. Dit is eintlik die eerste keer in 35 jaar dat ek dit doen.”

Feesgangers wat beplan om in Maart die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn by te woon, sal op 26 en 27 Maart na Stef kan luister in Stef Bos: Bijna 30 jaar later. Kaartjies vir die vertonings is by Webtickets beskikbaar.

  • Stef Bos het die jongste weergawe van sy immergroen treffer “Papa” spesiaal vir Maroela Media se lesers opgeneem. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud, en maak seker jy mis nie die lied aan die einde van die gesprek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.