Luna Paige vier mondigwording in musiekbedryf

Luna Paige (Foto: Jeandri Streicher)

Luna Paige het die plaaslike musiekbedryf in 1999 betree net ná haar eerste snitte by Sunset Recording Studios buite Stellenbosch opgeneem is.

“Ek vier een-en-twintig jaar in ʼn moeilike bedryf en ek kan nie anders as om aan my relevansie as kunstenaar in dié land te dink nie,” vertel sy. Paige meen dat dit vir haar én ander kunstenaars belangrik is om deurlopend selfondersoek oor hul bydrae tot die bedryf te doen.

“Kunstenaars moet elke nou en dan eerlik en opreg kyk na wat en hoe hulle skep én hoe hulle werk tot die nalatenskap van ons musikale argief bydra.”

Paige se jongste produksie, 21 jaar later, wat binnekort by die US Woordfees wys, is juis ʼn selfbesinning van haar loopbaan. Hoewel sy nie seker is wat hieruit gaan vloei nie, is sy hoopvol oor die toekoms.

“Wat ek wel weet, is dat dit belangrik is om te laat gaan van dit wat oud is en nie meer werk nie, om dit wat goed is raak te sien en daarop uit te bou, om die onbekende te omarm, asook braaf genoeg te wees om vreeslose weergawes van onsself te wees.”

Dié produksie is ʼn vertoonvenster van nuwe materiaal wat sy uit notaboekies, dagboeke, gedigte en neergepende gedagtes van die afgelope twee jaar saamgestel het. Sy beoog om ná die Woordfees te besluit watter snitte op haar nuwe album sal verskyn.

Paige het sedert die begin van haar loopbaan vier Engelse albums, een Afrikaanse album en DVD, asook verskeie enkelsnitte uitgereik. Sy is ook die eienaar van Iluminar Productions, wat ‘n verskeidenheid dienste bied, soos die ontwerp van interessante konsepte en idees, asook die bemarking van kunstenaars en musiekverwante geleenthede.

Haar musiek word grootliks deur persoonlike ervarings geïnspireer.

“Dit is bloot wegspringpunte,” vertel Paige. “Wanneer die lirieke klaar geskryf is, beskou ek dit nie meer as iets wat oor my of my persoonlike ervarings gaan nie.”

Luna Paige (Foto: Verskaf)

Die liefde en wroegings met die sin van die lewe is temas wat nog altyd sterk in haar lirieke na vore gekom het. In 21 jaar later betrek sy aktuele sake en haar ondervinding van die Suid-Afrikaanse werklikheid op ʼn eerlike manier. Haar liefde vir Afrikaans is één van die aspekte wat hier ter sprake is.

“Ek voel dit is belangrik om politiek van taal te skei,” sê Paige. Sy meen dat dit ʼn moeilike taak is binne die Suid-Afrikaanse milieu, maar dat dit essensieel is.

“Ons tale is wie ons is en daarom moet ons nooit daarvan probeer wegskram nie.” Al beteken dit dat sommige aspekte van die bedryf haar uitdaag.

Uit haar ervaring verduidelik Paige dat plaaslike gehore huiwerig is om onbekende kunstenaars te ondersteun.

“Ek dink ons mense moet meer waaghalsig wees en dit wat vir hulle onbekend is ʼn kans gee,” sê sy. “Dit sal wonderlik wees as plaaslike musiekliefhebbers hulself uitdaag om een keer ʼn maand na ʼn konsert of kunstenaar te gaan kyk wat hulle nie ken nie.”

Hoewel sy dit as ʼn uitdaging beskou, is dit nie die vernaamste een wat sy as kunstenaar moet trotseer nie. Die komplekse aard van ʼn kunstenaar se psige en subjektiwiteit van gehore is veel groter.

“Die grootste uitdaging is om jouself van jou werk te skei en nie toe te laat dat die werkslading, strewe na sukses of mislukking van projekte ʼn invloed op jou selfbeskouing het nie,” vertel sy. “Dis moeilik om ʼn balans te handhaaf wanneer jy die produk is. ʼn Mens kan soms verlore raak en ook vergeet om na jouself in die proses te kyk.”

Sy voeg by dat selfvertroue ʼn kernaspek van ʼn kunstenaar se voortbestaan is.

“Barney Simon het een aand vir my gesê: ‘Glo in jouself. As jy dit nie doen nie, gaan niemand anders nie’.” Paige vertel dat sy ooglopend op haar senuwees was toe Simon dié raad aan haar gegee het.

“Dit was nie maklik om te hoor nie, maar dit het my bygebly.”

Paige raak wel nog op haar senuwees voor optredes, maar sy beskou dit nie in dieselfde lig as ʼn gebrek aan selfvertroue nie.

“Dis ʼn bewys dat jy omgee vir jou optrede, jou materiaal en jou gehoor. Ek skep maar asem en sê dan ietsie moois vir myself. Dan knyp ek my oë toe en gaan!”

21 jaar later wys 14 Maart by die US Woordfees in Stellenbosch. Folk 101, ʼn musikale produksie deur Stellenbosch se Barokensemble, Here be Dragons, wys 11 en 12 Maart by die Woordfees. Dié produksie word deur Iluminar Productions aangebied. Kaartjies vir albei vertonings is by Computicket beskikbaar.

Paige is later vanjaar ook by die Suidoosterfees en Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Smeltkroes te sien. Dit vier die nierassigheid en individualisme van Afrikaans, gaan delf in die stories oor dit wat alle Afrikaanssprekendes aan mekaar bind en skep ʼn omgewing waarbinne kykers tot nuwe insigte kan kom.

Vir meer inligting besoek Iluminar Productions se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.