Margot vang spoed in Afrikaans

Margot. (Foto: Dearbeb Media)

Die sangeres en liedjieskrywer Margot is besig om teen ʼn hoë spoed haar stempel in die Afrikaanse musiekbedryf af te druk.

Sy het destyds die land laat regop sit met haar weergawe van Francois van Coke se “Toe vind ek jou” vir die klankbaan van die fliek Fiela se kind, en haar debuutenkelsnit “Tydelike afleiding” het groot aandag op radiostasies landwyd geniet.

Haar jongste enkelsnit, “110”, is juis geïnspireer deur die pas waarteen sy voel haar lewe in haar vroeë twintigs beweeg, vertel sy aan Maroela Media.

“Ek het gaan dink oor waar ek op die oomblik in my lewe sit. Ek het na my vriende gekyk en besef ons almal ervaar dieselfde druk om uit te pluis waar ons hoort. Al weet ons nie aldag presies wat ons doen nie, gaan ons voluit om ons drome na te jaag.”

Dis vir haar belangrik om musiek te maak waarmee luisteraars kan vereenselwig. “Ek wil ʼn veilige omgewing vir my luisteraars skep. Die liedjie lewer ʼn boodskap aan die gehoor dat niemand alleen is nie – dis nie net jy nie, dis ek ook. Ons almal ervaar dieselfde emosies.”

Margot en haar broer, Loki Rothman, op pad om saam in George op te tree. (Foto: Instagram/Loki Rothman)

Die musiekvideo is in Margot (22) se tuisdorp van Bellville in die Wes-Kaap deur Johannes Pieter Nel geskiet.

“Hy was so goed daarmee om die visie wat ek vir die konsep gehad het, lewe te gee. Ek wou graag die video skiet op plekke waar ek gemaklik voel. Die tonele in die motor beeld vryheid uit, met die wind wat deur my hare waai, teenoor tonele op ander plekke waar ek verlore voel, soos in ʼn winkel.”

Margot vertel sy kry inspirasie van internasionale kunstenaars en is mal oor musiek met lirieke wat dieper tref.

“Ek luister na die akkoorde en die teoretiese aspek van die musiek. Ek het in ʼn huis grootgeword waar musiek belangrik geag is en nie oppervlakkig hanteer is nie. Ons het diep gesprekke oor musiek in ons huis.”

Haar ouer broer, Loki Rothman, is self ʼn baie bekende musikant en het “110” saam met haar geskryf en vervaardig.

“Dit is so lekker om saam met hom te werk, want ons verstaan mekaar. Ons kan gemaklik vir mekaar sê wat werk en wat nie, want ons dink baie eenders. Ek hoef nie terug te hou nie en dit help baie dat ons mekaar se leemtes vul wanneer dit by die musiek kom.

“Ons druk mekaar om die beste weergawe van ʼn liedjie te lewer. Baie mense wonder of ek in sy skaduwee leef, maar ek is mal daaroor om hom te vier as hy goed vaar. Ek dank die Here vir so ʼn ongelooflike broer en dat ons so ʼn fantastiese verhouding kan hê.”

Margot leef ook haar kreatiwiteit deur haar passie vir modeontwerp uit en is tans saam met die bekende Suid-Afrikaanse ontwerper Lena Lisa werksaam.

Margot. (Foto: Dearbeb Media)

“Ek het vir drie jaar modeontwerp by Fedisa in die Kaap studeer. Ek wou nog altyd nie net een ding doen nie en het altyd gedink modeontwerp is iets wat my brein kan inoefen om buite die boks te dink – ʼn noodsaaklikheid wanneer jy met musiek werk.”

Sy is vol lof vir haar baas en mentor, Lena-Lisa Bester. “Ek leer so baie by haar en sy ondersteun my waar sy kan. Dit is so ʼn verrykende omgewing om in te werk.”

Margot, wat voorheen saam met Die Heuwels Fantasties die liedjie “Mejuffrou Sonneblom” opgeneem het, het onlangs ʼn liedjie getiteld “Demone” saam met die kletsrymer Jack Parow opgeneem.

Die musiekvideo vir die liedjie word vandag (Maandag) uitgereik.

“Ek is nog besig om my voete in die musiekbedryf te vind en wou graag die liedjie saam met hom aanpak. Dit vorm als deel van die ervaring wat ek opdoen en dit was baie lekker om saam met hom te werk op die stel van die video.”

“110” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “110”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Nie my ouderdomsgroep nie, maar dis duidelik dat die mooie mens met haar helder, sterk stem ‘n gewilde kunstenaar sal wees. Mooi video.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.