Mathys Roets-liedjie in FAK-liedjietuin verewig

Mathys Roets. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Net soos gister, net soos nou
is daar dinge en baie mense waarvan ek hou,
maar ek sukkel nog met hart.
Ja, hy wissel nog, gedurig van warm na koud, in my lewe.”

Só lui die lirieke van Mathys Roets se liedjie “In my lewe” wat die afgelope week in die “lewende museum” van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria verewig is.

Roets is ook vroeër vanjaar deur die FAK met ʼn prestige-prys gehuldig vir sy volgehoue bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf. Nou is daardie eer met sy liedjie in die liedjietuin bevestig.

“Dis snaaks hoe toeval werk. Of ís dit toeval?”

Só het Nardus du Plooy, bekende musikant van DKW-faam en liriekskrywer van “In my lewe”, tydens die onthulling gesê. Du Plooy was toevallig in Pretoria en kon dus die geleentheid self bywoon.

“Vandag kan ons nie die Afrikaanse musiekbedryf indink sonder Roets se aangrypende treffer waarmee elke individu kan vereenselwig nie,” meen Du Plooy.

“In my lewe” gaan nie oor Roets se lewe nie, maar oor elkeen se lewe, verduidelik hy. “Ek dink dit is waarom hierdie lied so diep in mense se harte gekruip het.”

Dié gewilde sanger, wat bekend is vir sy nostalgiese musiekstyl en rasperstem, se loopbaan het in 1989 begin toe hy as student in Pretoria vir fooitjies by ʼn winkelsentrum begin sing het. Hy het later bekendheid verwerf vir sy vertolking van die musiek van Leonard Cohen en Koos du Plessis.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, streef dié kultuurorganisasie daarna om tydlose Afrikaanse musiek te vereer en bevorder.

“Dit is vir ons belangrik om oorspronklike musiek en wysies in die FAK se liedjietuin op te neem. Tydlose musiek wat uit eie boesem ontstaan het,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.