Min Shaw oor ‘die groter doel’ agter 50 musiekjare

Min Shaw (Foto: Verskaf)

“Ek het nooit ʼn sangloopbaan gehad nie,” sê Min Shaw oor ʼn beker koffie in haar kantoor in die noorde van Johannesburg. Die stoom maak wasem teen die lense van haar bril, haar vingers voel-voel na die boonste randjie van die beker waar die vuurwarm koffie nie haar vingers brand nie.

“Ek het ʼn sangbediening gehad – dit was ʼn platform om groter dinge te doen as wat ek of enige mens met musiek kon bereik: om God te dien.”

Ja, sê sy – nes die Rooi See destyds in twee geskeur het om ʼn baan te weg vir die Israeliete tot aan die ander kant van die oseaan, só het haar lewe ook in twee verdeel. Maar in dié twee verhale is daar ʼn verskil, glimlag sy oor haar beker: In háár lewe het die waters egter nooit weer bymekaar gekom nie. Vandag, 50 jaar later, is dit steeds so.

“In my lewe en loopbaan was daar baie groot oomblikke, maar nog nooit weer een soos die dag toe ek tot bekering gekom het nie,” verduidelik sy die verwysing na die Rooi See. “Ek was iemand anders vóór daardie dag; ʼn mens met ander behoeftes. Dalk wêreldse dinge. Ná my bekering wou ek iets met ewigheidswaarde doen, ek wou almal vertel van die wonderlike ding wat my oorgekom het.”

Die son skyn deur die digte kantgordyn tot in die sitkamer. Binne is ons gepantser teen die koue, buite klop winde van die kouefront dreigend teen die venster.

Sy sit in “haar” stoel, ʼn leunstoel teen die boogvenster waar sy elke beweging kan dophou. Dié stoel is al ingesit tydens kuiers en geselsies; dié van vriende en familie, maar ook die media.

Min Shaw in 1969 (Foto: Wikipedia)

Dit is immers vanjaar al bykans 60 jaar gelede dat haar eerste treffer, “Kleine nagtegaal”, van haar ʼn huishoudelike naam gemaak het – selfs nog voor sy haar ‘formele’ loopbaan afgeskop het. Sy was nét ouer as 30 jaar en ʼn laerskoolonderwyseres toe sy ʼn talentkompetisie van LM Radio gewen en na Londen gereis het. Wat veronderstel was om een van die opwindendste gebeurtenisse van haar loopbaan te wees, was gevul met ʼn diep hartseer toe haar pa ʼn kort wyle ná haar aankoms in Londen gesterf het.

“Hy was maar 58 jaar oud. Ek onthou ek het in ʼn bus gery en ek het gewonder hoe op aarde ek dié nuus sal kan verwerk. Hoewel dit nie die enkele grootste ontmoeting met God in my lewe was nie, onthou ek pertinent hoe ʼn stem my gerus gestel het dat alles oukei sal wees. En dit was weer oukei.”

Teen dié tyd is die koffie afgekoel. Sy vat ʼn groot sluk van die beker en maak haar oë toe wanneer sy die koffie sluk. “ʼn Mens moet ʼn fyn waarnemingsin ontwikkel,” sê sy en skuif haar bril weer na bo. “Só leer jy die ‘klein dingetjies’ waardeer.”

Ná haar terugkeer uit die buiteland het sy na die skool teruggekeer as onderwyseres om ʼn vaste inkomste te verdien. Ja, daar was sekerlik sterre in haar oë, erken sy gewillig – maar tóé was dit maklik om haar opgewonde te maak: “Ek wou net ʼn mooi rok koop, dan was my hart vol geluk.”

Min Shaw tydens haar 80ste verjaarsdag (Foto: Wikipedia/André van Dyk)

Haar loopbaan het kort daarna skielik die hoogtes ingeskiet. Dit was die laat 1960’s en sy was die “it girl” – Suid-Afrika se grootste ster. Min, met haar vlamrooi hare, styfgespuit in ʼn byekorf-styl, en met haar piepklein middeltjie het oornag haar deurbraak behaal, haar “big break”, soos sy daarna verwys.

In dieselfde tyd het die flieks Hoor my lied, Jy is my liefling, Die Danie Bosman-storie en Lied in my hart vir verdere gewildheid onder aanhangers gesorg.

“Jy is my liefling”, die temaliedjie vir die gelyknamige fliek van 1968, was haar deurbraak as kommersiële sangers ná haar terugkeer uit die buiteland.

“Ek was nooit begaan oor treffers of toekennings of enigiets van die aard nie,” sê sy. Haar stem is ernstig, maar sy glimlag breed wanneer sy praat. “Dit was nie eintlik my dryfkrag nie, selfs voor die Rooi See my lewe geskei het.”

Tóé skei die see. Daardie één oomblik wat jou lewe verander waarna mense altyd verwys, het met haar gebeur.

“Ek wou nie meer vermaak nie. As jong dogtertjie, toe ek altyd klavier op my ma se naaimasjien gespeel het, het ek gedink om te vermaak sou vir my die grootste vreugde bring. Maar ná daardie oomblik het dit nie meer nie. Ek wou bedien, en selfs 30 jaar daarna kon jy my nie oortuig om ander musiek as gospel te sing nie.”

Sy skuif ʼn helderpers hoed met ʼn roos reg op haar kop. Onder dié hoed hang donker krulhare uit.

“Ek het in daardie tyd nee dankie gesê vir baie aanbiedinge. Iemand wou selfs hê ek moes ʼn rol vertolk in ʼn James Bond-tipe fliek, maar ek wou nie. Ek het gevoel die bediening waartoe ek geroep is, het ewigheidswaarde, terwyl daar oor ander dinge nie noodwendig dieselfde gesê kan word nie.”

In dié tydperk was daar egter ander musiek, bieg sy. Min en die country-legende Lance James was een van die gewildste duo’s van destyds. Liedjies in hul albums, Bymekaar (1968) en Weer bymekaar (1982), het op treffersparades landwyd gepryk.

Min Shaw en Lance James (Foto: Verskaf)

“Ons het vandag steeds ʼn wonderlike vriendskap,” vertel sy. “Ons is baie lief vir mekaar. Hy het die manier om ʼn mens só geborge en veilig te laat voel.” Sy lag terwyl sy ʼn staaltjie in haar gedagtes oproep. “Hy noem my Willemien, amper my regte naam, wat Wilhelmina is. Dis vir my baie spesiaal.”

Sou haar albums selfs nóg verdere hoogtes bereik het as sy méér kommersiële musiek gesing het, vra ek.

Sy sluk haar laaste koffie en plaas die beker op die tafeltjie neffens haar. Sy kyk ʼn barshou, haar oë glimlag.

“Nee,” antwoord sy. “Ek het altyd seën en guns in my loopbaan ervaar en dit het die hoogtes bereik wat dit moes. Ek is baie tevrede wanneer ek terugkyk en weet ek kon nie vra vir meer nie.”

Vir groter hoogtes kon sy egter nie vra nie – ná 1973 het sy sowat 20 gospelalbums uitgereik, waarvan talle goue-, platinum- of dubbelplatinumstatus bereik het. Min is ook die eerste sangeres in Suid-Afrikaanse geskiedenis wat goue status bereik het vir ʼn gospelalbum wat later platinumstatus bereik het.

Sy het selfs weer ʼn draai op televisie gemaak, onder meer in Tick Tock Time, ʼn TV-program vir kinders, en Familie dae, ʼn reeks wat sy saam met André Walters aangebied het.

In 2011 was sy ná 15 jaar terug met ʼn gospelalbum, God is my stem. Dié album het goue status verwerf nog voor dit op die rak verskyn het. In dieselfde tyd het sy ook meer kommersiële musiek uitgereik. Dit was weer tyd, sê sy, dié keer het dit reg gevoel.

“Ek was rustig daaroor. Ek het dié keer ʼn rustigheid in my gehad. En toe neem ek en Shaun Mynhardt weer ‘Gee haar ʼn roos’ op. Ek was tevrede.”

Min Shaw (Foto: Wikipedia)

Kritiek vorm altyd deel van ʼn kunstenaar se loopbaan. Selfs sý het dit nie vrygespring nie.

“Ek het dit maar altyd gevat soos dit kom. Ek onthou van die destydse opskrifte in die koerante,” lag sy uitbundig. Sy beeld die opskrif van die koerant met haar hande uit: “Drie mans in Min se lewe.” Sy vee sagte trane weg soos sy lag.

“Ek het in ʼn stadium besluit dit maak nie meer saak nie. ʼn Mens moet besluit wat gewig dra, en wat nié. Kritiek wat afbreek, het nie gewig gedra nie.”

Die sangeres, wat vier keer voor die kansel gestaan het, is veral ook hieroor oor die kole gehaal. Maar dit maak nie saak nie, keer sy ferm – soms werk dinge bloot net nie. Haar huwelik met Willie van Blerk, “die liefde van haar lewe”, was die grootste geskenk waarvoor sy kon vra. Van Blerk se dood minder as ʼn jaar gelede, het haar “diep getref”.

Sy vou haar hande saam, wys ʼn aanbod vir nóg ʼn beker koffie van die hand. Die seer is nog vlak, maar sy bly glimlag.

Min Shaw en Lance James (Foto: Verskaf)

“Ek kon nie vir ʼn mooier huwelik vra nie. Ons was ongelooflik gelukkig. Dit het my diep bedroef gemaak toe ons sy prostaatkanker te laat opgespoor het. Jan de Wet [die gospelsanger] het een maal aan my man gevra: ‘Vir hoeveel jare het jy vir God gevra?’ Willie het gesê 30 jaar. Ons het altyd daaroor gelag, maar dit was nie genoeg nie. ʼn Leeftyd is nie genoeg nie.”

Toe ʼn koekoeklok ons gesprek teen 12:00 onderbreek, drink ons albei die middagson in terwyl ons aan toebroodjies kou. Selfs al het ons beleefd nee dankie gesê, word nóg ʼn beker koffie ingedra.

Het jy genoeg gedoen, vra ek. “Is jy ná 50 jaar tevrede?”

Sy huiwer nie.

“Ek weet nie of ek klaar is nie,” lag sy. Weer die diep kyk in die oë. “Nou die dag was ek vinnig op die verhoog en ʼn vrou het my gevra hoekom ek nooit meer Engels gesing het nie. Toe dink ek: ‘Ja, dalk moet ek tog bietjie Engels sing ook.’ Maar ek weet nie. Dalk as ek kan noot hou en as die Here my nog vir ʼn rukkie wil gebruik, sal ek graag wil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Andre van der bank. ·

Pragtige mens, pragtige stem. As kind was ek “rooi ore ” verlief op hierdie dame.

VanAfrika ·

Sy was my broer se kleinseuntjie “crush”. In die laat sestigs/vroee sewentigs was ons een jaar by die Randse skou en sy het daar gesing. My broer was so agt jaar oud. Ek kan nog goed onthou waar ek langs hom gestaan het en so klein as wat hy was het hy vir haar gese hy gaan eendag met haar trou. Vandag is hy 55 jaar oud, bly in Australie en ek dink hy sal bly wees om te sien dit gaan goed met sy kleinseuntjie “crush”. Min is een van die min vrouens wat so n unieke skoonheid het. Dis raar en in “Jy is my liefling” slaan sy skoon jou asem weg sy is so mooi en dan kan sy daarby sing ook nog.

MCH ·

Ai, hoe trek die herhinneringe van grootword so n knop in my keel! My moeder het al Min se plate gehad en ons het haar musiek saam met moedersmelk ingekry op n Pilot stereo musieksentrum!

Frieda ·

Dis nou so toevallig, ek het net verlede week 2 van die cd’s van Min en Lance gekoop en dit Saterdag vir my Moeder gegee……sy het die spesifieke langspeelplate gehad, plus nog meer van Min. Ons was absoluut gaande oor haar, en is nou nog. Het nie een van haar flieks gemis nie, al het ons baie ver vanaf die inryteater gebly. Baie dankie Min, vir wat jy vir so baie beteken het, en nog steeds. Lief jou baie!!

Grotman ·

As kind het Min & Lance my ma en ons kinders na n vertoning in PTA genooi. Na die show het sy my en my een broer n soen gegee en die volgende dag was dit net koorsblare! Maar glo my dit was die moeite werd. Daars geen soos Min Shaw!

Erika ·

Sy is beeldskoon, en sing baie mooi, my ouers het ook al haar plate. Pragtige dame met pragtige stem!

thelsa ·

Ons het in 1973 saam getoer in die Kaap met Min Shaw. Ek was haar klanktegnikus. Op ‘n dag het ons tegniese span ‘n besoek gebring aan Neethlingshof (waar die fliek Die Geheim van Nantes) verfilm is. Daar het Jannie Momberg aan ons ‘n kas wyn gegee wat ons by Min Shaw moes besorg. Ek moet nou hier prontuit bieg . . ek weet nie wat van die ander bottels geword het nie maar Min het darem 2 bottels wyn gekry met ‘n persoonlike groete en boodskap van Jannie Momberg as troosprys.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.