Musiekblyspel uit Coenie, Deon se pen maak buiging by KKNK

‘Roem’ is eersdaags by die KKNK te sien. (Foto: Gys Loubser/Verskaf)

Wat gebeur wanneer ʼn bobaas-misdaadskrywer en ʼn meester van musiek kragte saamsnoer?

Klaarblyklik ʼn verhaal van intrige wat in die Karoo wegspring en uitspeel in die glans van die grootstad se liggies – natuurlik teen die agtergrond van topgehalte-musiek.

ʼn Oorspronklike Afrikaanse musiekblyspel getiteld Roem, uit die pen van onderskeidelik Deon Meyer én Coenie de Villiers, gaan eersdaags sy buiging by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) maak en beloof om gehore se harte nie net te roer nie, maar boonop te laat sing.

Roem vertel die verhaal van ʼn eens bekende sanger wat in die Karoo gaan skuil nadat hy sy illusies oor roem verloor het. Dán daag ʼn dogter van wie hy nie geweet het nie onverwags op, met drome soortgelyk aan dié wat haar pa agtergelaat het.

Bekendes soos Anrich Herbst, Eldon van der Merwe, Daneel van der Walt en nuweling Nelandi Boshoff is onder die rolverdeling, met teks deur Meyer en musiek deur De Villiers.

Die saadjie vir Roem is egter reeds geplant gedurende dié legendes se gewilde Karoo Suite-projek.

“Ons het al sewe jaar gelede die idee gehad om saam ʼn musiekblyspel te takel, maar ons afsonderlike skedules het dit nie eintlik toegelaat nie,” vertel De Villiers aan Maroela Media.

Daar kon eers met toonsetwerk begin word nadat Meyer teks gelewer het, wat ook moes wag vir sy jongste boek, Leo, se reklametoer om afgehandel te word.

“Mens takel natuurlik nie iets so groot soos dít as jy nie eintlik self baie daarvan hou nie, so ons het baie navorsing gedoen en nagte omgewerk.”

Daar is selfs na musiekblyspele soos Lin-Manual Miranda se gewilde Broadway-treffer Hamilton, wat oor die Amerikaanse grondlegger Alexander Hamilton handel en ʼn paar hiphop-treffers bevat, vir inspirasie gekyk.

“Benewens die skryf- en skeppingsproses is my hoogtepunte beslis om met sulke wonderlike akteurs te werk.”

Of hy weer in die toekoms ʼn musiekblyspel sal aanpak, antwoord hy skertsend: “O nee, dis soos om iemand wat nog nooit getroud was nie te vra of hy ʼn tweede huwelik sal aanpak.”

Anrich Herbst toe amper weer op Mamma Mia!-verhoog

Herbst, bekend vir sy rol as Wimpie in Orkney snork nie, vertolk die hoofrol van Janko in Roem en vertel dat sy hart nog altyd die warmste vir musiek geklop het.

Hy het kort voor nuus oor Roem se oudisies toevallig die geleentheid om sy 2010-rol in die plaaslike vertonings van die musiekblyspel Mamma Mia! te hervat, van die hand gewys.

“Dit was ʼn groot pluimpie vir my en wat ʼn lieflike ervaring was dit destyds, maar ek het nie kans gesien vir dieselfde rol of daardie lang speelvakke nie. Ek haal my hoed af vir akteurs wat dit aanpak,” vertel Herbst aan Maroela Media.

Agter is Anrich Herbst, Nelandi Boshoff, Hugo Theart en Eldon van der Merwe. Voor is Coenie de Villiers, Deon Meyer, en Nicole Holm. (Foto: Verskaf)

“Maar kyk! Die spyt het vinnig ingeskop, maar ek kon net nie myself sover kry om weer daarvoor in te stem nie. Ek het ʼn groot liefde vir musiekblyspele en wonder toe of iets soos dit ooit weer op my pad sou kom.”

In dieselfde week het hy ʼn e-pos van Roem-regisseur Nicole Holm ontvang om ʼn oudisie vir die produksie af te lê – iets wat hy as ʼn “hoendervleis-oomblik” beskryf.

“Ek het dadelik ja gesê, daar was geen twyfel nie, maar die oudisieproses was ook gʼn grappies nie. Ek moes Afrikaanse vertalings van Shakespeare-tekste opvoer en Coenie se eie lied, ‘Karoonag’, vir hom sing – praat van angswekkend!”

Tog het hy vinnig weer tuis gevoel.

“Van my vroegste teaterherinneringe was toe my ouers vir my en my suster as kind na musiekteaterproduksies in Johannesburg geneem het. Daar is vinnig ʼn belangstelling geskep wat nog al die jare vasgesteek het.”

Oor ooreenstemmings met die karakter van Janko terg Herbst dat daar nog gʼn kinders aan sy voordeur kom klop het van wie hy weet nie, maar uitdagings met roem is nie vir hom onbekend nie.

“Vandat ek 14 jaar oud is, het ek met beroemdheid te doen gehad, so hoewel ek nie noodwendig Janko se presiese gevoelens daarteenoor deel nie, weet ek hoe dit voel om een oomblik baie beroemd en ʼn volgende een skielik nie meer baie beroemd te wees nie.

“Deesdae hoef ek nie meer met hierdie goed te worstel nie, maar ek is beslis vandag ʼn produk van die invloed wat roem op my gehad het.”

Om met Meyer en De Villiers, wat toevallig ʼn oudstudent van Herbst se dosent-pa was, saam te werk, was volgens hom ʼn “groot bederf”.

“Hulle is albei so passievol en gee alles vir hierdie produksie. Hulle dra by, maar skep ook veilige ruimtes vir kreatiwiteit. Deon en sy vrou het selfs van die repetisies in Stellenbosch kom kyk, dan dra hy en sy vrou water en toebroodjies aan.”

Sy droom is vir gehore om die blyspel met ʼn ope hart en kop te ontvang, veral omdat dit ʼn onbekende verhaal en nuwe liedjies bevat.

“Ek hoop mense geniet dit, dit is ʼn pragtige verhaal en my mede-akteurs is almal uiters talentvol. Vir Afrikaans is hierdie produksie beslis ʼn groot stapvorentoe.”

  • Daar is ses vertonings van Roem by die KKNK te sien. Klik hier vir meer besonderhede en om kaartjies te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.