Musiekster om dop te hou: Marius Lubbe

Marius Lubbe. (Foto: Facebook)

Marius Lubbe is ʼn nuweling op die Afrikaanse musiektoneel. Dié 23-jarige sanger se jongste enkelsnit, “Mure”, is onlangs uitgereik en is ʼn groot treffer onder sy jong aanhangers.

Lubbe is gebore en getoë in Centurion in Gauteng en woon steeds daar. Hy het al as kind sy liefde vir sang ontdek en het besluit om dié passie in ʼn loopbaan te omskep.

Bedags is Lubbe in die IT-bedryf, maar na-ure is hy ʼn kranige sanger wat ook sy eie skryfwerk doen. “Mure” is egter uit die pen van liedjieskrywer Vaughan Gardiner.

“Die liedjie laat ʼn mens dink aan die goeie ou dae waar jy tot laatnag kon skoffel, sonder maskers en sonder vrese dat jou Uber jou nie voor die aandklok lui sal kan oplaai nie,” sê Lubbe aan Maroela Media.

“Daar is soveel dinge wat nou in die wêreld aangaan; Covid-19, oorloë, politieke onstabiliteit, protesoptogte en woede teenoor regerings en die mensdom. Dit is dinge wat ons almal besig hou en vir ons spanning veroorsaak.

“Ons hardloop rond van die een plek na die volgende, sonder om regtig af te skakel. ‘Mure’ moet luisteraars motiveer om die spreekwoordelike mure af te breek en om uit hulle grendelsones te klim.”

Lubbe sê hy het tot dusver goeie terugvoer oor die liedjie gekry. Hy het ook onlangs op die kykNET-vermaakprogram Bravo! verskyn.

“Dit was my eerste televisieonderhoud en dit was ʼn ondervinding en ʼn half. Robbie Kruse het met my kom gesels en die gesprek het gevloei van die begin af. Dit was ʼn heerlike ervaring. My familie en vriende het almal laat weet dat hulle na my kyk op die kassie en hulle was vreeslik beïndruk om my op die televisie te sien.”

Hy het verlede jaar die musiekbedryf amptelik as solo-kunstenaar betree en beskryf homself as ’n openhartige mens met ’n groot passie en liefde vir musiek.

Hy sing al vandat hy ses jaar oud is en nadat hy op skool deel was van ’n solo-sangopleidingsprogram, het hy geweet dat hy bestem was om op die verhoog te wees.

“My ouers het ons baie aan musiek blootgestel en ek het op ʼn jong ouderdom geleer kitaar speel.”

Sy groot droom is om binnekort ʼn vollengte album op te neem. “Die musiekbedryf het my geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie belangrike bestanddele is as jy sukses wil behaal.”

“Mure” is nie net die resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van dáárdie liedjies wat jy in die stort gaan sing, in jou motor gaan skreeu en in die kantoor gaan fluister.

Die musiekvideo vir die liedjie is deur Tylo Ribeiro vervaardig en geregisseer. “Ons het net ʼn week gehad om alles te beplan en die hele konsep saam te trek. Ek is regtig tevrede met die eindproduk en dit het glad nie soos werk gevoel nie, al moes ons skote oor en oor doen om seker te maak ons kry al die hoeke reg.”

“Mure” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Mure”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.