Musiekvideo: Emma Ellis sing nostalgiese lied oor verlore liefde

Die opkomende Afrikaanse kunstenaar Emma Ellis se splinternuwe enkelsnit, “Kombuis”, is ʼn nostalgiese snit wat emosies in luisteraars sal laat ontwaak waarvan hulle dalk al vergeet het.

Ellis het vroeër vanjaar haar weergawe van Elvis Blue se snit “Mooi” uitgereik en het onlangs die Top-10 van die sangkompetisie Maak my famous gehaal.

“Kombuis” is geïnspireer deur die beëindiging van ʼn liefdesverhouding en is uit die pen van Brendon Delport.

Volgens Emma handel die liedjie oor ʼn verlore liefde wat jy net nie kan laat gaan nie. “Met die liedjie reik ek uit en vra of ek mag terugkom,” sê sy.

Sy het dadelik aanklank gevind by die liedjie toe sy dit die eerste keer gehoor het en hoop dat luisteraars dit ook so sal ervaar.

“Ek hoop mense kan aanklank vind by die hartseer wat ons gevoel het toe ons dit geskryf en gesing het. Die einde van ʼn verhouding is iets waardeur die meeste mense al self gegaan het en ek hoop dat ‘Kombuis’ vir iemand anders ook kan afsluiting bring,” sê Ellis.

Die liedjie is nostalgies en dwing die luisteraar om te dink aan ‘die een wat weggekom het’. “Dit is waaraan ek wil hê mense moet dink wanneer hulle daarna luister.”

Emma Ellis. (Foto: Facebook)

Richard Onraet van Van Coke Studios het die liedjie vervaardig. “Die manier hoe die seer in my stem vasgevang is in die liedjie is iets anders en daarvoor kan ek net vir Richard dankie sê,” voeg Ellis by.

ʼn Musiekvideo vir die liedjie is in die Port Elizabeth Operahuis geskiet. Die outydse styl van die gebou pas perfek by die nostalgiese tema van die liedjie. Dié venue is een van die eerstes waar Emma as kind opgetree het en sy het ook ʼn paar jaar gelede weer daar gesing.

Ellis, Brendon Delport, Simoné Strauss, Kristie Ellis en Reynold King was betrokke by die produksie van die musiekvideo.

“Brendon was die beste persoon om die musiekvideo saam met my aan te pak, want niemand kan beter as hy die emosie agter die liedjie vasvang nie. Die video vertel die verhaal van hoe ek in ʼn teater optree wat so leeg soos my hart staan en ek sing net vir die een persoon – die verlore liefde.”

Ellis beplan om volgende jaar ʼn rits nuwe liedjies vry te stel en wil ook graag die langpad vat op ʼn landwye toer om vertonings te lewer wat haar staal as volwaardige kunstenaar sal wys.

Sy luister ook graag na folk-, indie- en popmusiek en put groot inspirasie uit Taylor Swift se skryfstyl. Vir haar eie skryfwerk put sy meestal inspirasie uit ʼn gebroke hart, met die uitsondering van ʼn paar liedjies wat geskryf is uit ʼn plek van pure geluk.

“Ek skryf wanneer ek ʼn vreemde emosie ervaar, of wanneer ek hartseer is of wanneer dit voel asof ‘iets’ moet uit.”

“Kombuis” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

die video kon netsowel ‘n swart agtergrond gehad het met nou en dan ‘n verskietende sterretjie wat verby kom om die agtergrond te verlig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.