Musiekster om dop te hou: Emma Ellis

Emma Ellis. (Foto: Facebook)

Emma Ellis betower gehore gereeld met haar ongelooflike stem en die diepte in haar vertonings. Nou spog dié voormalige The Voice-deelnemer ook met ’n splinternuwe enkelsnit, haar eie weergawe van Elvis Blue se “Mooi”.

Ellis is ook Woensdag gekies vir die top-20 van die kykNET-talentsoekreeks Maak my famous.

“Ek het besluit om ‘Mooi’ van Elvis Blue op te neem, want persoonlik is dit een van my gunstelingliedjies met ʼn positiewe boodskap – iets wat almal van ons nou nodig het,” vertel Ellis.

“Dit is een van die mooiste liedjies wat ek nog ooit gehoor het en dit het my in trane gehad toe ek dit die eerste keer gehoor het.”

Ellis se verwerking het vir dié Elvis Blue-treffer ʼn splinternuwe, vars baadjie aangetrek. “Ek wil graag met dié liedjie weer aan mense beklemtoon hoeveel ons het om voor dankbaar te wees – maak nie saak in watter posisie jy is nie, jy is altyd beter af as iemand anders.”

Emma en Karen Zoid op die ‘The Voice’-verhoog. (Foto: Facebook)

The Voice-kykers het Ellis leer ken nadat Karen Zoid hand opgesteek het om haar mentor op die program te wees. Ellis was so oorstelp nadat Zoid haar stoel omgedraai het, dat sy die woorde van haar liedjie vergeet het. Zoid het geen uitnodiging nodig gehad nie en het dadelik op die verhoog geklim om Ellis by te staan.

Nog ʼn oomblik wat sy nooit sal vergeet nie, was toe Zoid haar tydens ʼn vertoning by die Atterbury-teater op die verhoog genooi het.

“Die week voor die optrede het ek verskriklik in myself getwyfel en ek was op die punt om my sangloopbaan prys te gee en terug te trek van Pretoria af Port Elizabeth toe. En toe roep Karen my op die verhoog, voor ʼn uitverkoopte Atterbury-teatergehoor, en dit was ongelooflik. Toe ek opstap het ek besef as iemand soos sy in my kan glo, kan ek definitief in myself glo,” vertel Ellis.

Ellis skryf ook self en beskryf haar musiek as alternatief en sê plaaslike kunstenaars soos Spoegwolf, Francois van Coke en Karen Zoid en internasionale kunstenaars soos Vance Joy en John Mayer haar skryfstyl inspireer.

Emma op die ‘Maak my famous’-verhoog. (Foto: Facebook)

“My passie vir musiek kom al van kleintyd af. Al van die ouderdom drie of vier is ek al besig met iets musikaal. Ek het in verskeie groepe gespeel en was ook in die Oos-Kaapse kinderkoor. Op hoërskool het ek musiek geneem met tuba as my hoofinstrument. Toe ek klein was, het my pa altyd Enya en The Eagles en Pink Floyd vir my gespeel. Musiek is net nog altyd my lewe en ek is gelukkig genoeg dat ek dit my loopbaan kan maak,” sê Ellis.

“Mooi” is saam met ʼn paar van Ellis se nuwe snitte by Van Coke Studios in Kaapstad opgeneem en die musiek is vervaardig deur Richard Onraet.

“Die ervaring was ongelooflik. Richard is ʼn baie goeie vervaardiger en dit was baie lekker om saam met hom te werk. Dit was interessant om te sien wat hy doen en hoe hy dit doen en die spin wat hy op ‘Mooi’ gesit het, sou ek nie êrens anders kon kry nie. Dit is sy styl en ek is mal daaroor.”

“Mooi” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Emma Ellis het met Maroela Media gesels. Luister die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bite Me ·

Ag ek hou duim vas vir haar om tot die einde te gaan op Maak My Famous. Sy het voorwaar ‘n natuurlike talent. Sy kan maar sing en ek sou graag wou hoor hoe klink sy saam Karen Zoid of Francois van Coke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.