Musiekvideo: Fanus Pienaar sing oor ‘perfekte plaasmeisie’

Fanus Pienaar. (Foto: verskaf)

ʼn Pragtige jong vrou, getooi in ʼn fraaie uitrusting, naels geverf met die mooiste kleur en met lang blonde hare het sy soos ʼn wafferse model gelyk. Dit is egter nie wat Fanus Pienaar se oog gevang het nie, nee, dit was die John Deere-hoed op haar kop wat in sy gedagtes bly draai het.

Agt jaar gelede het Fanus dié vrou in Weiveld, ʼn Pretoriase kuierplek wat in 2022 sy deure gesluit het, raakgesien.

“Die prentjie het nie lekker gepas nie,” herroep hy laggend.

“Dit het nie gelyk of dié meisie al ooit op ʼn plaas was nie.”

Die oomblik het sy vingers egter laat jeuk om ʼn liedjie oor die “perfekte plaasmeisie” neer te pen. Nou het dié liedjie eindelik die lig gesien.

Fanus (36) se stem sal beslis bekend wees aan sommige radio-luisteraars: hy werk die afgelope paar jaar as omroeper by LekkerFM, en is verantwoordelik vir dié gemeenskapsradiostasie se ontbyt- en middagprogramme.

Hy het ook onlangs op TikTok aandag getrek met ʼn video waar hy byna nes Steve Hofmeyr klink. Hierdie video is al meer as 170 000 keer op dié video-app gekyk.

@fanuspienaarmusic

Baie dankie aan almal se follow. #afrikaanstiktoks #stevehofmeyr #fyp #afrikaansemusiek #viral

♬ original sound – fanuspienaarmusic

Alhoewel Fanus van ʼn jong ouderdom af lief vir musiek was, het hy nooit formele musiekopleiding gekry nie. Hy het ook eers in die ouderdom van 18 geleer om kitaar te speel.

Dit het egter nie lank gevat voordat die musiekmaak-gogga behoorlik gebyt het nie, en Fanus staan vandag al vir 17 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

“Ek is so verlig en verheug dat ek ‘John Deere hoed’ kon klaarmaak en met mense deel. Dit is ʼn wonderlike gevoel.”

Luister na “John Deere hoed” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.