Musiekvideo: Geestelike liefdesballade vereer huwelik van 40 jaar

Johan Anker Sasha-Lee Davids. (Foto: Verskaf)

“Ek belowe” is ʼn hoendervleismooi Afrikaanse liefdesballade met ʼn geestelike aanslag en meesleurende wysie wat die kunstenaars Johan Anker en Sasha-Lee Davids se stemme soos ʼn handskoen pas.

“Ek was onlangs by ʼn troue wat my opnuut herinner het aan die belofte wat paartjies aan mekaar maak. Die dominee het uit 1 Korintiërs 13 gepreek oor ware liefde tussen huweliksmaats en dit het my aan my ouers laat dink,” vertel Anker, wat self die liedjie geskryf het.

“Hulle sou vanjaar 40 jaar getroud gewees het en ek wou die liedjie aan hulle opdra. Ongelukkig moes ons my pa aan ʼn Covid-19-verwante hartaanval afstaan voordat ek dit kon doen,” sê hy.

Sasha-Lee Davids, saam met wie hy dié lied opgeneem het, het ook kreatiewe insette gelewer. Sean Butler het die lied vervaardig.

“Ek het besluit om tog die liedjie uit te reik om my ouers se huwelik te eer, al is my pa nie meer hier nie. Gelukkig kon hy dit nog hoor voor sy dood en was hy mal daaroor.”

Volgens Davids, wat in 2009 as die medewenner van die sangkompetisie Idols aangewys is, gaan die liedjie ʼn gunsteling wees onder diegene wat tans troues beplan.

“Dit is vir my ʼn groot voorreg dat Johan my gevra het om saam met hom te sing en ek dink mense gaan mal wees daaroor. Dit het van die begin af met my hart gepraat en omdat ek ook ʼn Christen is, kon ek dié pragtige liriek uit volle bors saamsing.

“Die melodie en produksie is so mooi gedoen deur Sean Butler dat jy nie anders kan as om verlief te voel as jy dit hoor nie.”

Albei musikante het dit baie geniet om saam aan die liedjie te werk en voel geseënd om te kan doen waarvoor hulle lief is.

“Ek en Sasha-Lee wou graag goeie storievertellers wees en ek glo ons het hierdie liefdesverhaal mooi oorgedra,” voeg Anker by.

“Ek belowe” is Johan se derde enkelsnitvrystelling (buiten sy album) en volg in die voetspore van treffers soos “Hoop en bid” en “Soldaat”, wat nie net goed ontvang is op die radio nie, maar waarvan die musiekvideo’s ook duisende kere op YouTube gekyk is.

Anker het naam gemaak toe hy tydens die eerste reeks van The Voice SA (2016) die stoele laat draai het met sy weergawe van “Hallelujah”.

Wanneer die Oos-Kapenaar nie musiek maak nie, hou hy ook sy lyf akteur, aangesien hy met ʼn BA-graad in drama aan die Universiteit Stellenbosch spog, waar hy onder leiding van bekende regisseurs soos Marthinus Basson kon leer.

Johan Anker Sasha-Lee Davids op die stel van die musiekvideo vir ‘Ek belowe’. (Foto: Verskaf)

Hy was ook al op die kassie te sien in ʼn glimprol in een episode van die eerste seisoen van die kykNET-reeks, Boland Moorde. Hy is tans besig om aan nog musiek vir ʼn kortalbum te werk.

Davids, oorspronklik van Atlantis in die Wes-Kaap, is die wenner van twee werklikheidsreekse, Idols (seisoen vyf) en Matrix (seisoen twee), en werk al 12 jaar in die musiekbedryf. Sy is een van tien kinders en het in ʼn huis vol musiek grootgeword. “Ek belowe” is haar tweede Afrikaanse uitreiking.

In 2011 was sy en haar gesin ook te sien in die kykNET-werklikheidsreeks, Huis van Davids, wat baie gewild was onder kykers.

“Ek belowe” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.