Musiekvideo: Retief Burger sing ‘Sekelmaan’ saam met simfonie

Retief Burger (Foto: Verskaf)

Twintig jaar gelede het die helderste sekelmaan voor die gospelsanger Retief Burger in die lug gehang toe hy en sy vriende vroegoggend deur die Karoo gery het. Almal was vas aan die slaap, terwyl hy bestuur het en toe skielik God se stem hoor.

“Op 31 Desember 2021 het ek en my gesin vroegoggend uit die Karoo vertrek en net soos 20 jaar gelede het ʼn helder sekelmaan weer die hemelruim verlig,” vertel Burger in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media.

“Ek het ervaar hoe die Here met my praat en vir my sê dat dieselfde boodskap so nodig is om te hoor vandag. Die hemelse Bruidegom sing nog steeds oor sy bruid.”

Dit is die inspirasie vir Burger se heropname van sy lied “Sekelmaan”, wat verweef word met die klanke van ʼn simfonie-orkes. Burger sê hy het dadelik aan Devereaux Oosthuizen, een van Suid-Afrika se meester simfonie-verwerkers, gedink en haar genader om saam met hom te werk.

“Ek wou nog altyd iets saam met Deedee gedoen het, en nou is die tyd reg. Nie ons tyd nie, maar die Here sʼn. Sy is ook lief vir die Here en was dadelik opgewonde toe ek haar vra,” sê Burger.

“Sekelmaan” se splinternuwe musiekvideo met ʼn simfonieklank word vandag amptelik bekendgestel.

Dit is deur Handmade Media vervaardig, dieselfde produksiemaatskappy wat “Die seën”, ʼn duet met Burger en Riana Nel, gemaak het.

Oor die konsep en inspirasie vir “Sekelmaan” se musiekvideo vertel Burger dat hulle graag die bruid as ʼn gewone mens wou uitbeeld. Nie in ʼn wit rok soos wat jy gewoonlik aan ʼn bruid dink nie.

“Dit is mense van elke volk, nasie, ras, ouderdom, mense wat sal antwoord op die roepstem van Jesus.”

Burger vertel verder dat die musiekvideo ʼn uitbeelding van Jesus is wat deur ʼn woud stap en soos die sekelmaan mense se lewens verlig. “Dit bring lewe en dan word hulle die bruid van Jesus.”

Kyk hier na die musiekvideo van “Sekelmaan”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.