Musiekvideo: Stephan Nel dans met hart en siel

Stephan Nel. (Foto: Verskaf)

Stephan Nel se jongste musiekvideo, “Sê dit weer”, wat vandag bekendgestel is, is ʼn lewendige lied en Nel sê hy hoop dat almal wat daarna luister met oorgawe sal saam dans.

“Dit is ʼn Afrikaanse popliedjie met ʼn medium tempo”, verduidelik Nel aan Maroela Media. “Maar die ritme is daardie soort wat jou sal laat opspring, ʼn geliefde se hand gryp en dans.”

“Sê dit weer” gaan oor liefde, om liefde te gee, liefde te ontvang, en te sê: “Ek is lief vir jou”. Nel meen ons lewe in ʼn liefdelose wêreld en dat elkeen die behoefte het om lief te hê en geliefd te wees.

Die lied is deur Christoff de Beer geskryf, en volgens Nel wou hy graag iets met ʼn moderne, maar tog volwasse klank, gehad het.

“Ek is immers nie meer 25 jaar oud nie,” skerts hy, en voeg dan by: “Natuurlik is hierdie woorde wat ek nou vir my vrou, met wie ek hierdie jaar 10 jaar getroud is, sal sê: Ek lief jou meer.

“Ek moes mooi dink oor wie hierdie lied sou kon vasvang en tot sy reg bring en daarom het ek dadelik geweet dat Daniel Baron van The Hit Kitchen die opname sou doen.”

Nel sê Baron glo in elke projek wat hy aanpak en die passie waarmee hy werk, is aansteeklik. “Ek het spesifiek iemand gesoek wat nie net met hulle vaardighede werk nie, maar met hulle hart en siel.”

Stephan Nel. (Foto: Verskaf)

Dit is Nel se eerste musiekvideo en hy het gou besef dat daar eintlik niks nuuts is wanneer dit by konsepte kom nie.

“Daar is nie sommer iets wat iemand nie al gedoen het nie en daarom het ek besluit om dit eenvoudig te hou. Dit moes ook iets wees waarmee ek kan vereenselwig,” sê Nel.

Sy liefde vir die natuur en Suid-Afrika se beeldskone landskappe was uiteindelik die inspirasie vir sy konsep.

“Danny Zoutendyk, wat die vervaardiger was, het die Hartbeespoortdam-omgewing voorgestel en ons het dit daar geskiet. Dit was regtig ʼn baie lekker projek om aan te werk.”

Kyk hier na “Sê dit weer” se musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.