Musiekvideo: Tasha jaag nie roem, wil net sing

Tasha. (Foto: Willem Botha)

Nie té lank gelede nie het die sangeres Tasha, ʼn nuweling op die Afrikaanse musieklandskap, nog op die plattelandse dorpie Middelburg gebly. Gepantser met ʼn droom om musiek te maak het sy deelgeneem aan Coleske Artists se werklikheidsprogram Die Kontrak, waar sy dadelik die musikant Elvis Blue se aandag getrek het.

Haar jongste enkelsnit getiteld “Ek moet weet” is onlangs uitgereik en die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Ek moet weet” is uit die pen van liedjieskrywer en sanger Riaan Benadé, wat self tans groot opslae in die Afrikaanse musiekbedryf maak.

“Ek en Riaan is baie goeie vriende. Toe hy my laat weet van dié liedjie, het ek dadelik geweet ek móét dit opneem,” vertel Tasha.

Tasha het nie die eindronde van Die Kontrak gehaal nie, maar Coleske Artists kon haar talent nie miskyk nie en het vir haar ʼn platekontrak aangebied.

Tasha. (Foto: Willem Botha)

“Ek het sak en pak opgetrek Pretoria toe om nader aan my platemaatskappy te wees. Deur alles het Riaan my ook die heeltyd aangemoedig om aan my droom vas te klou.”

As Coleske Artists-kunstenaar bevind Tasha haar in die geselskap van van die land se top-kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Corlea, Jay du Plessis en vele meer. Tasha was ook een van die kunstenaars wat vroeër vanjaar deel was van die liedjie “Ons sal self”.

“Ek is ’n eenvoudige meisie wat net wil sing en ek is op my gemaklikste op die verhoog, agter ’n kitaar, besig om ʼn storie te vertel. Ek droom nie van ʼn roemryke lewe nie – ek wil net graag mense met my musiek vermaak met die hoop dat hulle ʼn boodskap vir hulself daaruit sal neem.”

Met die verfilming van die musiekvideo vir “Ek moet weet”, het Tasha ook jong talent op die voorgrond geplaas.

“Ek is ook jonk en weet hoe uitdagend dit kan wees om ʼn mens se stempel in die bedryf te probeer afdruk, so ek probeer altyd help.”

Die video is geskiet deur BrickWolf Creatives se begaafde Christiaan Wolf en die jong paartjie Hugo en Zani Gutsch van Gutsch Films en Photography onder leiding van Coleske Artists se Johan C Venter.

“Ek moet weet” is in die Afrikaans is Groot Vol. 13-versamelalbum beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JoeJoe ·

Pragtige meisie! Pragtige stem! Uniek. Kop in die wolke, voete op die grond. Dis wat jy moet weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.