Musiekvideo: Wesna se debuut bring gevoel van veiligheid

In haar debuutenkelsnit, “Tuis”, sing die Afrikaanse nuweling Wesna oor die één plek waar jy veilig voel, daardie spesiale tuiste.

Dié ballade en musiekvideo is nou amptelik uitgereik en sal dadelik aanklank vind by elke persoon wat ʼn veilige hawe het of daarna strewe.

“Die veilige plek waarvan ek in my enkelsnit sing, is by ʼn spesifieke persoon en dit word ook so in die musiekvideo uitgebeeld.

“Die plek waar ék veilig voel, is so naby soos ’n gebed en niks sal my van die veilige hawe kan skei nie,” vertel Wesna.

“Tuis” is geskryf deur William Wolf, wat ook self opslae maak met vele treffers uit sy pen.

“Die liedjie het ’n besonderse plek in my hart juis omdat ek reeds dié gevoel ervaar het. Dis ʼn voorreg om iewers tuis te kan voel – daar waar jy net jouself kan wees en jy aanvaar word deur goeie en slegte tye,” sê Wesna.

Volgens haar het die lirieke dadelik met haar gepraat en kon sy ook vereenselwig met die boodskap wat die liedjie oordra.

Wesna vertel dat sy glo luisteraars op verskillende maniere met die liedjie kan vereenselwig, veral mense wat reeds dié gevoel van veiligheid ervaar het of daarna hunker.

In die musiekvideo, waarin Wesna self teenoor die akteur Arno Greeff verskyn, word die storie van ’n paartjie wat krapperig uitmekaar gaan wanneer die manlike figuur moet weggaan vir werk, uitgebeeld. Dit speel alles af in die paartjie se huis, wat dan die veilige tuiste is wanneer al twee daar is.

Wesna. (Foto: Magnolia Grace)

“In die musiekvideo dink ek terug aan al die goeie tye en hoe baie ek hom mis. Ek word elke keer teruggeruk na die werklikheid totdat hy vroeg terugkom en my verras,” verduidelik Wesna die video se konsep.

Wesna se musiekloopbaan het reeds op die ouderdom van agt jaar afgeskop. Sy is gebore en getoë op die platteland en het haar drome uitgeleef met ’n haarborsel, haar ouers se bed as verhoog en Nádine se treffers.

Sy het vertel sy beplan nog meer liedjies en sal graag wil deel wees van groter konserte. “Ek wil ook ’n voetspoor en klank nalaat. Omdat ek ook so lief is vir Afrikaans, sal ek beslis in die Afrikaanse musiekbedryf tuis wees, want ek kan my soveel beter uitdruk in dié mooi taal van ons.

“Liedjies met mooi lirieke en stories inspireer my en laat my tuis voel,” sê sy.

“Tuis” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die splinternuwe musiekvideo vir “Tuis”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.