Nuwe FAK-sangbundel op die horison

Die FAK-sangbundelkomitee. (Foto: verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), gestig in 1929, is die oudste kultuurorganisasie van sy soort. Deur die jare en dekades heen het dié organisasie talle musiekbundels uitgereik, en dit is  ʼn kulturele tradisie wat in 2023 voortgesit sal word.

Ter viering van die FAK se eeuwording in 2029, sal ’n splinternuwe FAK-sangbundel uitgereik word.

“Die FAK-sangbundel dien as ’n argief vir Afrikaanse musiek en geskiedenis.”

Só sê bekroonde komponis, Franco Prinsloo, oor die rol wat die FAK-sangbundel vervul. Prinsloo dien op die sangbundelkomitee wat Vrydag vir die eerste keer by die Voortrekkermonument in Pretoria byeengekom het om die beplanning vir die nuwe sangbundel af te skop.

“Ons het met twee FAK-sangbundels in ons huis grootgeword,” het Danie du Toit, ook bekend as Danie Reënwolf van die musiekgroep, Spoegwolf, oor sy betrokkenheid by die bundel vertel.

“Ek is baie opgewonde om deel van hierdie projek te wees!”

Du Toit  dien op die komitee saam met Pieter Smith, Jannie Moolman, Piet Smit, Monika Maree, Coert Grobbelaar, Joe Niemand, Gisela de Villiers, Machiel Roets,  Franco Prinsloo, Irma Liebenberg en Christelle Engelbrecht. David du Plessis en Stefan Jansen is verantwoordelik vir outeur- en publikasiereg.

“Om deel van hierdie projek te wees, is om geskiedenis te skryf,” het Jaco van Staden, projekbestuurder van musiekontwikkeling by die FAK, gesê oor die jongste bundel wat onder sy leiding geskep en bekend gestel gaan word.

“Die FAK-sangbundel is iets wat in elke huisgesin aangetref kan word, en vir die grootste deel van Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis, was dit die enigste sangbundel wat in musiekopleiding beskikbaar was. Hierdie sangbundel stel al vir generasies die standaard.”

Die nuwe sangbundel sal nie bloot net ou liedjies weer publiseer nie, maar die kollig op nuwe musiek in die Afrikaanse musiekbedryf werp, verduidelik Van Staden.

Die eerste FAK-sangbundel, ook bekend as die FAK-Volksangbundel vir Suid-Afrika is in 1939 uitgereik. Die laaste een is in 2016 uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Helene ·

Ek hoop van harte die bladmusiek is speelbaar, want dit is hoekom die Europese liedjies al die eeue staande gebly het, en ons s’n nie. Nie almal is ewe vaardig met note lees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.