Pieter Smith se ‘Willemiena van Gezina’ wikkel op die Top-20

Pieter Smith en Bibi du Preez in die musiekvideo vir ‘Willemiena van Gezina’. (Foto: Skermgreep/YouTube)

Pieter Smith se nuwe tong-in-die-kies-treffer, “Willemiena van Gezina”, maak vandeesweek sy, oftewel haar, buiging op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Dié prettige enkelsnit se musiekvideo het reeds meer as vyftigduisend trefslae op YouTube en sal aanhangers aan Pieter se treffer, “Stukkie van der Merwe”, herinner.

Barto blyk vandeesweek steeds baas van die Top-20 te wees, maar dié keer is dit sy en Marissa se lied, “Ons twee genoeg”, wat in die topposisie sit. Sy ander treffers, “Impulsief” en “H2Oë” beklee tans onderskeidelik die derde en sewende posisies.

In vandeesweek se Top-20 is daar vier liedjies wat klim, ses wat hul plek verloor, nege wat onverander bly en een nuwe liedjie wat die trefferparade betree.

  1. Barto saam met Marissa – “Ons twee genoeg”
  2. Bernice West – “Lyfie”
  3. Barto – “Impulsief”
  4. Die Heuwels Fantasties en Appel – “Nora Vlok”
  5. Brendan Peyper – “Nee of ja”
  6. Eloff – “Swipe regs”
  7. Barto – “H2Oë”
  8. Dodo Nyoka – “Foto’s”
  9. Droomsindroom – “Ek ly aan”
  10. Brendan Peyper – “Toer om die vloer”
  11. Zaan Sonnekus – “Monitor”
  12. Eloff – “Witblits”
  13. Prop – “Kwaaitjie”
  14. Eloff – “Johnnie Blou”
  15. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  16. Eloff – “ATKV”
  17. Sakkie en Francois van Coke – “Hey jy”
  18. Brendan Peyper – “Insomnia”
  19. Gerhard Steyn saam met Loufi en Jacques du Plessis – “Vat die Cruiser”
  20. Pieter Smith – “Willemiena van Gezina”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings:

Esme Fox, wat ook saam met Steyn de Wet onder die vaandel “Esme en Steyn” sing, se splinternuwe enkelsnit, “Misgeloop”, is pas bekendgestel.

Dié lied vertel die storie van twee mense wat mekaar ontmoet, ʼn sterk konneksie deel en byna onmiddellik verlief raak, maar weens omstandighede nooit bymekaar uitkom nie.

Die liedjie is saam deur Fox, Johan Vorster en Jacomien de Wet neergepen.

Ander liedjies wat bekendgestel is, sluit in Skemer se “Lig die dag”, Jandré se “Dit kom in golwe”, Corrazerwas se “In jou oë” en Francois Jacobs se “Tweede jy”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.