Resensie: ‘Die standvastige man’ – Jakkie Louw

jakkie-louw-die-standvastige-man

Jakkie Louw se jongste album ‘Die standvastige man’. Foto: Facebook.

Hoewel Jakkie Louw al 18 jaar lank aktief is in die musiekbedryf, het hy eers bekendheid verwerf nadat hy Drie pikkewyne uitgereik het.

Sedertdien het hy nog drie albums, asook een saam met Kevin Leo, uitgereik.

Nou is by terug met sy eerste solo-album in twee jaar, Die standvastige man. Die eerste snit op die album, “Die koeël is deur die kerk”, vertel die verhaal van hoe sy pa en ma mekaar ontmoet het. Op “Engel van die platteland” sing hy van ʼn tipiese Boeremeisie vir wie se hande niks verkeerd staan nie. Eintlik sing hy van niemand anders nie as sy eie vrou.

Jakkie het sy debuut as akteur gemaak in die rolprent Die spook van Uniondale, en die volgende snit, “Ek glo”, is spesiaal vir dié rolprent geskryf. Ongelukkig kon hy dit nie betyds voltooi vir gebruik in die rolprent nie, maar dit is wel nou op die nuwe album.

In die titelsnit kom Jakkie se ernstige kant na vore. Jakkie het ook al ander partytjie-liedjies opgeneem, maar in hierdie snit kom jy agter dat daardie liedjies nie weerspieël wie hy regtig is nie. Nie net het hy hierdie snit self geskryf nie, maar hy wys ook op ʼn ander manier dat hy ernstig is deurdat hy ʼn belofte op sy CD-omslag laat afdruk het. Hierin sê hy dat hy onderneem om God te dien, getrou te bly aan sy vrou, sy verantwoordelikhede teenoor sy gesin na te kom en dié wat hom kwaad aangedoen het, te vergewe. Dit alleen maak dat hy groot respek behoort te verdien.

“Prinses” is nog ʼn snit wat hy vir sy vrou geskryf het. Op “Stadsboer” sing Jakkie van ʼn man wat van die platteland kom, maar deur omstandighede gedwing word om in die stad te woon.

Jakkie Louw het “Rooi Willie” geskryf na aanleiding van ʼn karakter wat Leon Schuster in een van sy rolprente vertolk het – ʼn grootwildjagter wat kwansuis ʼn ateljeegas op die destydse televisieprogram Spies en Plessie was en Jan Spies “per abuis” met ʼn kierie geslaan het. Gewoonlik hou ek niks daarvan dat ʼn Afrikaanse liedjie op ʼn bestaande wysie geskoei word nie, maar hier is ʼn uitsonderlike geval. “Rooi Willie” is geskryf op die wysie van Ram Jam se treffer “Black Betty”, wat toevallig deesdae in ʼn supermarkgroep se advertensieveldtog gebruik word. Jakkie se weergawe klink baie goed, veral omdat daar ʼn viool en ʼn mondfluitjie daarin voorkom.

Met “Lucas Maree” kom Jakkie se ernstige kant weer sterk na vore. Dié snit is ʼn huldeblyk aan die sanger en liedjieskrywer wat byna vyf jaar gelede aan kanker dood is.

Jakkie neem met elke album ʼn liedjie op saam met iemand vir wie hy groot respek het. Hy het al liedjies saam met Anton Goosen en Kevin Leo opgeneem, en hierdie keer kom John-Henry Opperman, die voorsanger van Klopjag, aan die beurt. Jakkie en John-Henry het “Skreeu jou naam oor die see” saam opgeneem, en daar is ook reeds ʼn musiekvideo van hierdie snit vervaardig.

Die akoestiese kitaarwerk op “Hart se punt” is uitstekend; dit alleen maak hierdie snit iets besonders. Net so is “Die perfekte dag” ʼn pragtige snit.

“Dankie vir die bel” is nog ʼn besonderse snit. Hierin vertel Jakkie onder meer die ware verhaal van ʼn vriend wat op die punt gestaan het om sy eie lewe te neem nadat alles te veel geword het. Toe bel ʼn vriend hom om uit te vind hoe dit gaan. Daardie telefoonoproep het sy lewe gered.

Daar is een snit op die album wat kop en skouers bo die res uitstaan, en ja, dit sluit selfs die titelsnit in. Jakkie is ʼn groot rugbyliefhebber en hy het “Van toeka tot nou” geskryf om sy liefde vir dié sportsoort uit te druk.  Die musiekvideo is boonop iets besonders. Jakkie het volle toegang tot die SAUK se argief gehad en hy het heelwat hoogtepunte uit die geskiedenis van Springbok-rugby, asook kommentaar deur niemand minder nie as Gerhard “Spiekeries” Viviers, ingesluit.

Dis goed dat Jakkie sy nuwe album so kort ná die Wêreldbeker-toernooi uitgereik het, want anders sou mense dalk van hierdie juweel vergeet het.

Die laaste snit, “Kaalvoet in die reën” is nog ʼn snit waarop Jakkie sy talent bo alle twyfel ten toon stel.  Daar is egter ook ʼn bonus-snit, “Aardetyd is genadetyd”, wat hy geskryf het na aanleiding van ʼn boek van Maretha Maartens.

Vir diegene wat Jakkie gekritiseer het vir sy “oppervlakkige” musiek van die verlede sal hierdie album beslis ʼn openbaring wees. Jakkie het gewis as kunstenaar gegroei, en dit maak dat sy musiek nou ook by ʼn meer volwasse gehoor byval sal vind. Goed, hy sal steeds “Drie pikkewyne” tydens sy konserte sing, maar mense sal nou begin besef dat hy eintlik ʼn uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae