Resensie: Hie’ kommie Bokke (20ste herdenkingsalbum) – Leon Schuster

leon-schuster

Leon Schuster. Foto: Leonschuster.com

Dit is nou al twintig jaar sedert die Springbok-rugbyspan die Wêreldbeker vir die eerste keer gewen het.

Een van die redes vir die Springbokke se sukses daardie jaar was Leon Schuster se album, Hie’ kommie Bokke, wat kort voor die Wêreldbeker vrygestel is en waarvan omtrent ʼn kwartmiljoen eksemplare verkoop is. Ter viering van dié album se verjaardag is dit heruitgereik en hierdie keer is dit digitaal hermeerster. Daarom is dit miskien goed om weer in besonderhede na die album te kyk omdat ʼn nuwe generasie nou daaraan blootgestel word.

Die titelsnit was ʼn reuse treffer en het Springbok-ondersteuners laat saamsing. Leon het dit saam met onder meer Roy Bulkin geskryf. Roy was een van die regisseurs van die album en het tussen 1976 en 1981 ses treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad. Hy is vroeg in 1996, drie dae na sy 44ste verjaardag, aan kanker oorlede.

“Ag pleez Daddy” is ʼn verwerking van Jeremy Taylor se groot treffer van die 1960’s, maar Leon het nuwe woorde daarvoor geskryf. “Bang Johanna” is ʼn lekker saamsingliedjie, met ʼn paar bekende wysies wat bymekaar gevoeg is.

Baie rugbyliefhebbers sal die voorval onthou waar die Springbok-stut, Johan le Roux, die All Black-haker en kaptein, Sean Fitzpatrick, se oor glo gebyt het. Op “Achie breakie ear”,  op die wysie van Billy Ray Cyrus se  groot treffer “Achy breaky heart”, sing hy hiervan.

Die legendariese dr. Danie Craven, wat in die 1930’s die Springbok-kaptein was en later voorsitter van die Internasionale Rugbyraad, is in 1993 oorlede en op “Dink jy darem nog aan Doc?” bring Leon hulde aan hom. Leon het sy stem op hierdie snit perfek nagemaak; dit was nie die eerste keer wat hy dit gedoen het nie.

“Gauteng” is op die wysie van The Troggs se groot treffer “Wild thing” geskryf en dis seker waarom Leon se groot treffer van twee jaar later eerder Gautengeleng genoem is. “Ipi koppie” is op die wysie van die temaliedjie van die Suid-Afrikaanse musiekblyspel, Ipi tombi, geskryf. Leon het op daardie stadium seker nie gedink dat “Nkosi sikhelel’ i Afrika” en “Die Stem” later wel saamgevoeg sou word om Suid-Afrika se nasionale lied te vorm soos wat hy hier gesing het nie.

Op “Hippo in ʼn skrum” spot hy met die voorrye wat soms lekker groot is en dit moeilik maak vir die skrumskakel om die bal by die skrum in te gooi. Leon het dit op die wysie van Boney M se treffer “Brown girl in the ring” geskryf en sy weergawe gebaseer op ʼn nuwe weergawe van dié bekende liedjie waarin daar ook ‘n rymklets-gedeelte voorkom.

Leon het gereeld liedjies oor bekende rugbyspelers geskryf en “Pretty Cabousie” gaan juis oor die regtervleuel Cabous van der Westhuizen, wat  nooit ʼn toetswedstryd gespeel het nie omdat hy geweier het om sy hare te laat sny, soos die bestuurspan van hom verwag het.

“Gee hom gas” is nog ʼn lekker saamsingliedjie waarop Leon presies sê wat hy van die rugbyspanne van ander lande dink. “Ek soek die Bokke” is ʼn wysie wat veral enigiemand wat al in die Voortrekkers was, goed sal ken, maar natuurlik het Leon nuwe woorde daarvoor geskryf.

Die laaste snit staan bekend as “Champions unplugged”. Hierop sing Leon allerhande bekende liedjies van verskillende lande, maar met nuwe rugby-lirieke. Onder hierdie liedjies is “Waltzing Matilda”, “Land of our fathers”, “Volare”, “Molly Malone” en “Galway Bay”. In die meeste van hierdie lirieke gee hy sy eerlike mening oor ander lande se rugbyspanne. Anders as wat soms met heruitreikings van bekende albums gebeur, is daar geen bonussnitte ingesluit nie en hierdie album is in sy geheel heruitgereik net soos wat dit oorspronklik vrygestel is.

Wanneer ʼn album so suksesvol soos hierdie een is, kan ʼn mens seker wees dat dit tot baie soortgelyke albums sal lei. In 1995 alleen het daar nog minstens twee rugby-albums deur plaaslike kunstenaars verskyn, een deur Bill Flynn en een deur Danie Niehaus en Tolla van der Merwe.

Vier jaar later het Steve Hofmeyr ook ʼn rugby-album, getiteld Die Bok kom weer, vrygestel.  Dit is ook ʼn instelling dat daar ʼn aantal versamelings met rugbyliedjies met elke Wêreldbekertoernooi verskyn en dit het vanjaar weer gebeur. Dit is ʼn teken dat Leon iets reg gedoen het met hierdie album en daarom is dit goed dat dit weer beskikbaar is. As jy ʼn rugbyliefhebber is en jy het hierdie album nog nooit in jou versameling gehad nie, moet jy ʼn plan maak om dit in die hande te kry!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.