Riana Nel oor tragedie agter nuwe enkelsnit

“Kuns is soveel meer as om mense net ʼn goeie tyd te gee. Jy moet ook hoop gee en vertroosting bied.”

Só sê Riana Nel, die geliefde Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer, oor haar splinternuwe album, Sterker, wat ná sy onlangse uitreiking reeds bewys dat dit een van die topverkopers vir 2019 sal wees.

Die album is sedert dit amptelik op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees bekend gestel is, in die no. 1-posisie op verskeie aanlyn platforms asook in toonaangewende musiekwinkels. Nel het twee jaar lank aan Sterker gewerk en uit bykans 80 liedjies uit haar pen, is 12 noukeurig gekies om op dié lankverwagte album ingesluit te word.

Die eerste enkelsnit vanaf die album, “Hou die hemel oop”, het aanhangers gaande. Nel vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media ʼn baie emosionele ervaring was die inspirasie agter dié snit.

“My seuntjie is nou drie jaar oud en in ʼn kleuterskool. Ons het ʼn WhatsApp-groep vir al die mammas in sy klas en op ʼn dag het ek ʼn boodskap gekry dat een van die seuntjies in sy klas verdrink het. Ek het verskriklik gehuil en vir die seuntjie se ma gevra hoe ek haar kon bystaan – ek sou tee maak of sing, enigiets wat sy nodig het,” vertel Nel.

Die seuntjie se ma het laat weet dit sal baie vir hulle beteken as Nel op die begrafnis kon sing. Nel onthou hoe sy met haar aankoms by die begrafnis, wat in ʼn skuur op ʼn kleinhoewe plaasgevind het, die Here se teenwoordigheid aangevoel het.

“Toe ek moet sing, het die Heilige Gees vir my gesê ek moet voor die seuntjie se ouers kniel, ek moenie staan nie, en dat ek moet sing uit die seuntjie se perspektief – hoe hy op reënboë dans en op Jesus se skoot sit en dat sy ouers moet vasklou aan hulle geloof sodat hulle ook eendag saam met hom in die hemel kan wees.”

Riana Nel. (Foto: Willem Botha via Facebook/Riana Nel)

Riana Nel. (Foto: Willem Botha via Facebook/Riana Nel)

Volgens Nel kry sy terugvoer van aanhangers dat “Hou die hemel oop”, wat verlede week die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die no. 12-posisie betree het, hulle laat terugdraai na die Here.

“Soveel mense kry perspektief oor die ewigheid deur die liedjie. Ek en die seuntjie se ma het onlangs gesels oor hoe wonderlik dit is dat ʼn liedjie, wat ek in daardie oomblik op die begrafnis opgemaak het en later verder geskryf het, dié tipe impak op die publiek het. Haar seuntjie se lewe was nie vir niks nie,” sê Nel.

Die agter-die-skerms-video vir die maak van die musiekvideo vir “Hou die hemel oop” is verlede week uitgereik en dié video het reeds sowat 58 000 trefslae op YouTube. Die musiekvideo sal later vandeesmaand beskikbaar wees.

Nel doen ook op Sterker ʼn duet saam met Ruhan du Toit van Touch of Class-faam getiteld “Moenie”, en sê dié liedjie herinner haar aan haar landwortels. Die liedjie is in samewerking met die Nashville-liedjieskrywer, Brandon Chase, geskryf. ʼn Musiekvideo vir die snit is ook gedeeltelik vanjaar by Innibos geskiet voor ʼn gehoor van meer as 20 000 mense.

ʼn Verrassing op Sterker is die duet, “Alles vir niks”, saam met die rocker en haar mede-beoordelaar van die MNet-sangkompetisie, The Voice, Francois van Coke. “Ons het gedurende die tyd op The Voice baie goeie vriende geword en kon diep dinge met mekaar deel. Vir albei van ons is ons familie baie belangrik en dit is hoe dié liedjie ontstaan het,” vertel sy.

Tasché Burger (19), wat in Van Coke se mentorskapspan deelgeneem het aan dié gesogte sangkompetisie, is gisteraand as die wenner van The Voice SA 2019 aangewys. Soné Joubert (26) en Siki Jo-Ann Qwazi (25), wat in die topdrie was, was albei in Nel se mentorskapspan.

“Die hele pad wat ek met The Voice gestap het, was verstommend lekker,” sê Nel. “Ek het saam met die deelnemers gegroei as mens. Soné en Siki het albei ook platekontrakte losgeslaan en ek is so trots op hulle.”

Riana saam met haar mede-beoordelaars van 'The Voice': Francois van Coke, Lira en Riky Rick. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Riana saam met haar mede-beoordelaars van ‘The Voice’: Francois van Coke, Lira en Riky Rick. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Sy sê laggend dat sy na Joubert en Qwazi as haar kinders wil verwys. “Ek het vir hulle probeer inprent dat die publiek van almal van hulle hou en dat dit geweldig moeilik is om een uit te sonder, want elkeen is verskillend. Ek wou hê hulle moet verstaan dit gaan nie noodwendig oor wie die beste is nie, want die Suid-Afrikaanse gehoor hou van uiteenlopende kunstenaars. Solank as hulle goeie liedjies maak en getrou bly aan hulself en nié hulself met enigiemand anders vergelyk nie, sal hulle suksesvol wees.”

Nel voeg by dat hulle tans werk aan musiek vir Joubert se album. “Soné is baie lief vir ons taal en ek is so trots op haar. Die liedjies waaraan ons werk, is ongelooflik en sy is so ʼn plat op die aarde en unieke mens.”

Sy is ook vol lof vir Burger, wat van dag een af ʼn groot gunsteling was om te wen. “Sy is nog baie jonk en moet nou baie vinnig die grootmenswêreld betree. Ek bid dat die Here sy hand oor haar sal hou en haar sal lei,” sê Nel.

Sterker is op alle digitale platforms en by toonaangewende musiekwinkels beskikbaar vir aankope.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

F ·

As daar nou n Engel op aarde is, dan is dit nou Riana Nel. Wonderlike mens met die mooiste hart. Dit is hoekom sy geliefd sal bly.

Susan Freysen ·

Riana Nel is absoluut ń inspirasie. Geskenk van God aan ons as mense.. Prys God vir haar talent!

Zettie ·

Ek het trane in my oë net van die berig lees. Ai my hart bloei vir mammas wat klein kindertjies so vroeg aan die dood moet afstaan. Dankie Riana dat jy daar was vir die mamma. Dankie vir jou liefde en omgee. Dankie dat jy net jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.