Rina Hugo: ‘So lank as wat mense wil luister, sal ek sing’

Rina Hugo. (Foto: Facebook)

Ja, sy het almiskie die groot verhoë van die wêreld – waarop sy langer as vier dekades onder meer opera- en gospel-liefhebbers in vervoering gehad het – vaarwel geroep, maar solank as wat die mense wil luister, sal sy aanhou sing.

Só vertel Rina Hugo (71), een van die land se bekendste en veelsydigste sopraanstemme, wat sedert 1975 gehore van Boston in die VSA tot Rio de Janeiro en België bekoor. Sy het in 2018 die FAK Prestige-toekenning ontvang vir die bevordering van Afrikaanse musiek die afgelope 40 jaar.

Hugo fokus egter die afgelope paar jaar op kleiner optredes in kerke en tydens eredienste en sê sy geniet ook die konserte wat sy en haar man, die bekende musikant Johan van Rensburg, spesiaal vir senior burgers aanbied.

Sy en Van Rensburg is in 1971 getroud en het twee kinders, die model Anri en musikant Riaan. “Dit is iets lekker wat ek en hy saam op ons oudag kan doen. Ek en Johan geniet die vertonings net soveel soos die gehoor,” sê sy.

Weens die Covid-19-pandemie is alle groot byeenkomste verbied en kon kerkdienste asook Hugo se optredes uiteraard nie voortgaan nie. Sy en Van Rensburg het dié tyd tuis in Johannesburg aangewend om ʼn aanlyn vertoning getiteld “Hartsliedere” self op te neem en te vervaardig.

“Die titel is spesiaal gekies omdat ek liedjies uit my hart uit gesing het in dié program. Tydens die inperkingstydperk het ek ook my af dae gehad, want my singery is net soos alle ander kunstenaars s’n skielik uit my lewe geruk.

“Ek het swaargekry. ʼn Sanger se instrument sit binne sy lyf; jou stem vorm deel van jou siel en emosies en vir ʼn sanger is dit baie moeilik om net skielik op te hou sing. As ek sing, voel ek beter.”

Die vertoning bevat liedjies wat sy noukeurig gekies het uit haar ongelooflike repertoire van sekulêre en gospel-snitte soos “Jesus loves me” en “I’ll walk with God”. Sy verklap ook dat sy en die musikant Jaconell Mouton saam ʼn verwerking van die liedjie “Agnus Dei” opgeneem het.

Sy het spesifieke liedjies gekies vir die program wat die gehoor met ʼn positiewe gees sal nalaat, sê sy. “Miskien sal die konsert ʼn pleister oor iemand anders se seer plak.”

Die konsert is ook ten bate van die Christelike Seemansorganisasie, wie se hoofdoel dit is om Bybels aan seemanne op skepe te verskaf in hulle eie taal. Daar is ook vyf predikante wat voltyds in Suid-Afrikaanse hawens werk.

Hugo vertel sy is al vir bykans 30 jaar by dié organisasie betrokke nadat sy en haar destydse sangmaat, die operasanger Gé Korsten, genader is om ʼn geldinsamelingskonsert ten bate van dié organisasie te doen.

Rina Hugo ontvang die FAK se toekenning. Hier is sy en haar man, Johan van Rensburg. (Foto: Verskaf)

“Ons het gesien hoe hulle in die hawens werk en geleer oor die werk wat hulle doen en dit het ʼn baie groot indruk op my gemaak. Weens die pandemie kon skepe nie in die hawens kom nie en die seemanne kon nie op die skepe kom nie. Die organisasie is egter vanjaar 76 jaar oud en ek wou steeds my deel doen om hulle te ondersteun. Ons stap al ʼn baie lang pad saam en die werk wat hulle doen lê my baie na aan die hart.”

Hugo vertel sy en Van Rensburg het “Hartsliedere” van begin tot einde saam aanmekaar geflans. “Ons het dit in verskillende hoekies in ons huis opgeneem sodat elke skoot anders lyk. As ons die dag met die program besig was, dan het ons die hele dag daaraan afgestaan, want ek moes dan my hare en grimering ook doen. Omdat ons eintlik nêrens heen kon gaan nie, het ons rustig te werk gegaan, maar dit was groot pret.”

Sy gee toe dat dit ʼn groot leerproses was. “Ek en Johan is in ʼn situasie waar tegnologie verby ons gehop het, maar die kleinkinders help ons baie,” lag sy.

“Ons het alles met ʼn selfoon opgeneem en baie foute gemaak en dan maar weer oor begin. Die bemarking van die program is ook nou, met sosiale media, baie anders as waaraan ek gewoond is. Ek kom uit die dae waar ons ʼn plakkaat opgesit het wat mense nooi om kerksaal toe te kom. Nou is dit ʼn hele ander storie.”

Johan en Rina saam met hulle kinders, Riaan en Anri. (Foto: Facebook)

Uit die kommentaar op haar Facebook-blad blyk dit dat haar aanhangers uitsien daarna om Hugo se goue stem weer te hoor.

“Dat ek ná soveel jare nog vir mense kan sing, is net genade van Bo. Met elke nuwe jaar wonder ek of dit die laaste jaar is wat mense na my sal kom luister en as ek weer kyk gaan ek net weer aan. Sing is vir my die lekkerste ding om te doen en solank as wat mense wil luister, sal ek sing.”

Kaartjies vir “Hartsliedere” kos R120 en is beskikbaar by Tixsa. Die konsert is van Sondag 27 September om 15:00 tot Sondag 4 Oktober om 18:00 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Foefie ·

Rina, vir solank as wat jy asem in jou liggaam het: sing asseblief.

Die Here het jou voorwaar geseën met ‘n pragtige klokhelder stem. Altyd lekker om na jou te luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.