Rohan Britz sing diep woorde in danssnit

Die sanger Rohan Britz se enkelsnit, “Ek mis jou”, is pas uitgereik. (Foto: Verskaf)

Tydens sy kinderdae het Rohan Britz twee ambisies gehad: om ʼn sangloopbaan te volg en om vragmotorbestuurder te word.

“Ek het van jongs af ʼn speelmikrofoon gehad. Dáárdie mikrofoon het ek oral saam met my gedra. Wanneer ek die kans gekry het, het ek altyd vir die grootmense en kinders gesing,” onthou Rohan laggend, en voeg by: “Ek het ook altyd ʼn speelgoed vragmotortjie saam karwei.”

Vir meer as ʼn dekade het Rohan nie veel aandag aan sy musiek gegee nie, omdat hy gefokus was daarop om sy eie onderneming in die vervoerbedryf aan die gang te kry.

“Ek het nooit die geleentheid gehad om self ʼn vragmotor te bestuur nie, al sou ek graag so iets wou doen, maar ek besit vandag my eie onderneming, Britz Couriers & Removals.”

Met die onlangse uitreiking van sy tweede enkelsnit, “Ek mis jou”, is hy nou sommer nog ʼn tree nader daaraan om ook sy sangdrome ʼn werklikheid te maak.

“Ek het ʼn passie vir musiek en luister veral na country- en Afrikaanse musiek. Ek put veral my inspirasie uit die musiek van Juan Boucher,” vertel Rohan.

Die Afrikaanse musiekbedryf het verlede jaar met sy basstem kennisgemaak toe sy debuut-enkelsnit, “Onthou”, bekendgestel is.

“Ek mis jou” is ʼn lewendige danssnit, maar met diep lirieke wat Rohan na aan die hart lê. Darryl de Lange van die Musicology Recording Studio was vir die lied se vervaardiging en opname verantwoordelik, en die sangeres Zurilda het die agtergrondsang gedoen.

Die lied gaan oor ʼn jong man wat die grootste liefde van sy lewe verloor het.

“Dit is ʼn persoonlike snit. Die liedjie is geskryf toe my en my vrou Chanelle, se paaie vir ʼn wyle geskei het. Ek het nooit besef dat ek haar soveel sou mis nie. Die snit verwoord die deurmekaar gevoelens wat ek gedurende daardie tydperk van my lewe ervaar het,” vertel Rohan.

Hy sê verder die lied vang die gevoelens en effense angstigheid van verlief en verlore wees, perfek vas. Die snit ondersoek ook die uitwerking wat dit op ʼn persoon het wat nooit kans kry om uiting aan dáárdie mengelmoes van emosies te gee nie.

Dit is sowat 10 jaar gelede sedert die lirieke van “Ek mis jou” uit Rohan se pen gevloei het. Hy het dit onlangs nadergetrek en besluit om die lied op te neem, en toe sy vriendin, Zurilda, gevra om hom daarmee te help.

Die resultaat van ʼn bietjie afstof en aanpas, is ʼn danssnit waarmee Rohan hoop om Suid-Afrikaners op hulle voete en aan die skoffel te kry.

“Ek hou van ʼn goeie danstreffer,” meen hy. “‘Ek mis jou’ is ʼn snit waarop ek ook sal dans, en dit is ook die rede waarom ek besluit het om die lirieke met dansmusiek te kombineer. Ons Afrikaners hou maar van ʼn lekker danspartytjie.”

Rohan is nie net opgewonde oor sy jongste enkelsnit nie, maar ook oor al die beplanning vir nuwe musiek en optredes.

“Ek is reeds besig om aan nog musiek te werk, en sodra daar genoeg materiaal is, wil ek begin om die land plat te toer. Dit sal wonderlik wees om my sololoopbaan aan die gang te kry, en ek en Zurilda werk ook aan ʼn paar duette. Ons is baie opgewonde om met konserte te begin.”

Luister hier na die musiekvideo van Rohan Britz se enkelsnit, “Ek mis jou”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.