Twee snitte vir Irene-Louise op Top-20

Corné Pretorius. (Foto: Verskaf)

Die Gautengse rockgroep, Die Eindste, het die afgelope week hulle tweede enkelsnit bekendgestel.

“Jou optog”, ’n lied uit die pen van André Faure, die groep se voorsanger en akoestiese kitaarspeler, gaan oor die angs van sosiale verwerping en die impak wat so ʼn ingesteldheid op jou lewe en selfvertroue kan hê.

“Die liedjie vertel die storie van iemand wat as gevolg van sosiale angs nie die selfvertoue het om te veg vir die meisie van sy drome nie. Dit veroorsaak dat sy hom verwerp en iemand anders bo hom kies. Hy sit dan in hoop en wag dat sy van plan verander, hoewel hy diep binne homself weet dat hulle nie vir mekaar bedoel is nie.”

Die Afrikaanse kunstenaar Rayne se lied “Skaduwees” is ook pas bekendgestel. Met dié enkelsnit wil hy dieper kwessies aanraak en die lied handel oor die oomblik wanneer jy jou lewe terugneem en vanuit die donker die lig instap.

Francois van Rensburg, die bekende omroeper en musikant, het ook hierdie week ’n nuwe enkelsnit, “Cowboys don’t cry”, uitgereik.

Hoewel die titel van die liedjie Engels is, is dié ballade Afrikaans. Die idee agter die liedjie het gekom toe hy eendag by ’n verkeerslig stilgehou het waar ’n man vir hulp en geld gevra het. Op daardie stadium het Francois nie enige geld of iets by hom gehad nie. Hy het toe so ʼn entjie verder gery en omgedraai om darem ’n geselsie met die knaap aan te knoop. Die man het weerloos daar gestaan en toe hy hom oor sy welstand uitvra, het die persoon geantwoord: “Cowboys don’t cry”.

Ander nuwe liedjies wat die afgelope week bekendgestel is, is Imke se “Sterker as”, Corné Pretorius se “Skree”, Dewald du Plessis se “Ek kan”, Christiaan Baartman se “Net ’n bietjie” en Rooibos en Wijn se “Hemel”.

 

Die week se Maroela Media Afrikaanse Top-20:

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Jay en Irene-Louise van Wyk se splinternuwe duet, “My volgende fout”, klim vandeesweek met 14 plekke en neem die no. 3-posisie in.

Irene-Louise se “Tekkies brand” neem weer die no. 1-posisie in.

Riaan Benadé se “Vat ʼn bietjie” en Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf se “Eggo” bly vir eers in die vierde en vyfde plekke.

Eloff betree vandeesweek die top-20 in die 20ste plek met “Johnnie Blou”.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar twee snitte wat styg, 11 wat daal, ses wat onveranderd bly en een nuwe toetrede.

  1. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  2. Riaan Benadé – “Spontaan”
  3. Jay en Irene-Louise van Wyk — “My volgende fout”
  4. Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf – “Eggo”
  5. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  6. Appel – “Dina”
  7. Franja du Plessis – “Bring dit”
  8. Bernice West – “Hemel op aarde”
  9. Reën – “Stof”
  10. Elvis Blue – “Goud in die vuur”
  11. Ricus Nel – “Ploeg jy”
  12. Brendan Peyper – “Die wolf”
  13. Tasché – “Baby, ek bly”
  14. Dirk van der Westhuizen – “Vir altyd”
  15. Rooksein – “’Damlelielief”
  16. Steve Hofmeyr met Touch of Class – “’n Pa se hart”
  17. Kurt Darren – “Blok party”
  18. Spoegwolf – “Silwer”
  19. Leah – “Move aan”
  20. Eloff – “Johnnie blou”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

daarsdit ·

Ons almal wonder maar net, van waar kom die top 20?
Luister heeldag 3x verkillende stasies by die werk en het van meeste nog nooit gehoor nie.

Sune van Heerden ·

Dagsê daarsdit

Dankie vir jou boodskap. Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie. Hou asseblief ook in gedagte dat ons slegs op Afrikaanse enkelsnitte fokus. Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na [email protected] indien jy enige verdere navrae hieroor het.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.