Veelsydige Emil Paul tref met ‘vars liefdeslied’

Die sanger en liedjieskrywer Emil Paul is bekend vir sy dieper ballades, maar sy jongste enkelsnit getiteld “Hartbewing” is ʼn vars lied wat oor die gelukkiger aspek van die liefde handel.

“Hartbewing”, uit Paul (25) se eie pen, beskryf die vinnige hartklop en fisieke opgewondenheid wat jy ervaar wanneer jy verlief raak.

Die Johannesburgse sanger, wat ook as professionele fotograaf en vervaardiger sy brood en botter verdien, is onlangs getroud met Tabea. “Hartbewing” is deur dié gebeurtenis in sy lewe geïnspireer.

“Ek het ʼn reël vir myself gemaak dat ek slegs musiek sal uitreik wat ek self geskryf het, asook waarvan ek deel was in die vervaardigingsproses.”

Die enigste uitsondering op daardie reël tot dusver was toe hy verlede jaar ʼn duet saam met Zanzi Africa, getiteld “Een keer”, uitgereik het. Dié liedjie was oorspronklik deel van haar album wat in 2015 uitgereik is.

Emil Paul op die The Voice SA-verhoog. (Foto: Facebook)

Paul werk tans voltyds in die ateljee as musiekvervaardiger saam met Hugo Ludik van Muse Studios. Terwyl hy graag ook foto’s neem, bly musiek sy grootste passie en hooffokus, hoewel hy deesdae verkies om meer in die agtergrond van die bedryf te werk.

“Om te sing sal egter altyd ʼn liefde van my bly en ek sal steeds aanhou om elke nou en dan ʼn enkelsnit uit te reik.”

Paul het in die derde seisoen van die talentkompetisie, The Voice South Africa, deel gevorm van sanger en mentor Francois van Coke se span. Hy het daarna sy debuutalbum, Begin Net Oor, uitgereik.

Sy oudisie-video vir Die Kontrak, waar hy ʼn a cappella-weergawe van Theuns Jordaan se “Soos bloed” sing, word wyd en syd op sosiale media versprei en is al byna 130 000 keer gekyk.

Paul werk tans aan ʼn paar groot projekte by Muse Studios. “My stem kan ook in die agtergrond gehoor word in treffers soos Eloff se ‘Johnnie Blou’ en ‘Witblits’, asook ʼn paar opkomende liedjies deur van ons land se grootste kunstenaars wat binnekort die lig gaan sien.”

“Hartbewing” is op alle groot digitale platforms beskikbaar. ʼn Musiekvideo sal in Oktober uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.