Video: ‘Die Kontrak 2’ ontgin Afrikaanse musiekgoud

Tarryn Lamb, Refentse, Karlien van Jaarsveld en Monique Steyn tree as mentors op vir die tweede seisoen van Die Kontrak.

Demi Lee Moore, wat in 2018 as die wenner van die eerste seisoen van die talentsoekprogram Die Kontrak aangewys is, se loopbaan het sedertdien handomkeer verander.

Waar sy in hotelle in Kaapstad as agtergrondsangeres opgetree het, is sy vandag een van die suksesvolste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf en verkoop selfs konserte in die buiteland uit.

Die Kontrak 2 is slaggereed om nog ʼn opkomende kunstenaar se loopbaan ʼn welverdiende hupstoot te gee.

Vier mentors, Karlien van Jaarsveld, Tarryn Lamb, Refentse en Monique Steyn, het elkeen twee deelnemers uit sowat 2 000 inskrywings gekies wat na die uitklopkonserte geneem sal word.

Hier moet die deelnemers die grootbaas, Arnold Coleske van Coleske Groep, ʼn afdeling van Warner Musiek Afrika, beïndruk. Hulle moet hard werk sodat hy nie hulle kontrak opskeur nie, maar eerder sal onderteken.

Die wenner sal op 4 November tydens die openingsaand van die uitverkoopte Afrikaans is Groot-konsert by die SunBet Arena aangekondig word. Daarna sal die wenner van Die Kontrak deel wees van die reeks konserte en die verhoog met die room van die Afrikaanse musiekbedryf deel.

Die drie kenners wat die grootbaas bystaan om sy groot besluit te neem is Barry Pretorius, kreatiewe hoof van Afrikaans is Groot, Corlea Botha en Jo Black.

Die Kontrak 2 sal bestaan uit 13 episodes met agt uitklopkonserte, elkeen met ʼn uitdagende tema om die nuwe kunstenaars se staal te wys. Demi Lee Moore, Bobby van Jaarsveld en Pulane Nel-Sekepe is die aanbieders van die program.

Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore en Pulane Nel-Sekepe is die aanbieders van die program.

Die top-16 is vroeër vanjaar op die GrootJol-konsert in Pretoria aangekondig. Dié deelnemers sal in die eerste episode weer ʼn oudisie aflê, waarna die top-agt aangekondig gaan word.

Die Kontrak 2 sal vanaf 21 Augustus elke Sondag om 18:30 op eEkstra (kanaal 105 op Openview en kanaal 195 op DStv) uitgesaai word. Herhalings word die eerste Saterdag ná elke episode om 18:00 op eTV uitgesaai.

Die liedjie wat die deelnemers tydens die uitkloprondes sing, sal direk ná afloop van elke uitsending op Apple Music en Spotify beskikbaar wees.

Maroela Media het agter die skerms gaan kuier by Die Kontrak 2. Luister in hierdie video wat Pulane Nel-Sekepe (aanbieder), Karlien van Jaarsveld (mentor), Tarryn Lamb (mentor) en Jo Black (kenner) oor hulle ervaring, gunstelingdeelnemers en die reeks sê:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.