Video: Brendan Peyper vat jou saam op sy trekker

Brendan Peyper het pas sy jongste musiekvideo vir sy liedjie “Lekkerder op my trekker” uitgebring en stel daarin sy liefde vir die plaaslewe ten toon.

“Lekkerder op my trekker” kom uit sy jongste album Sterk soos ʼn leeu en is die tweede musiekvideo van ʼn liedjie in dié album.

“Lekkerder op my trekker” is jou tipiese tong-in-die-kies, lekker vasdansliedjie. Dit is iets nuut wat ek probeer, hy het so ʼn blues- en rock-gevoel. Dis iets anders as wat ek normaalweg sou doen, so ek hoop die mense hou daarvan,” sê Peyper.

Maroela Media het vroeër berig oor die liedjie “Sterk soos ʼn leeu”, wat gaan oor die feit dat hy vir lank afgeknou is.

Peyper sê hy wou met “Lekkerder op my trekker” ʼn meer prettige aanslag bied. “Dit is definitief ʼn fun liedjie en die prettigste van al die liedjies op die album,” sê hy.

Die musiekvideo vir “Lekkerder op my trekker” dra ook by tot die prettigheid van die lied, met ʼn tikkie romanse. Brendan ry ʼn stokou trekker, terwyl die vrou wat langs hom boer ʼn splinternuwe trekker het.

“Ek moet elke keer eers ʼn bietjie werk insit, pypies terugdruk en goed vasdraai vir my trekker om te werk, terwyl haar trekker al die nuutste tegnologie het.”

Hy probeer haar dan met sy trekker beïndruk, maar dit misluk. Dan help sy hom om sy ou trekker reg te maak, en hulle ry die sonsondergang op die ou skedonk in.

Brendan sê dit was vir hom heerlik om ʼn video te skiet en ʼn liedjie te sing oor iets waaroor hy passievol is.

“My hart lê op die plaas en in die Bosveld, dit sal altyd wees. Ek sal mal wees daaroor om eendag te boer as my singery bietjie rustiger gaan, maar dit is nog ver in die toekoms. Ek wil eers sing tot my stem nie meer wil nie,” sê hy.

“Ek het beslis meer passie in die liedjie gesit omdat ek so baie van boerdery hou en omdat dit so deel van my DNS is.”

Hy meen die beste tyd om na “Lekkerder op my trekker” te luister is wanneer jy op pad plaas toe is of as jy op pad is na ʼn kuier toe.

“Jy kan lekker kuier en dans op dié liedjie. En as jy dalk jou gemoed moet rus, kan dit jou help om beter te voel.”

“Lekkerder op my trekker” is op alle digitale platforms beskikbaar. Kyk die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.