Video: Gesin sing soos wafferse Von Trapps toe beurtkrag tref

Die Leonard-gesin en hul gades. (Foto: Verskaf)

Die Leonard-gesin en hul onderskeie gades. (Foto: Verskaf)

Olga Leonard, die beroepsmusikant wat tans te sien is in die musiekproduksie Krog op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, en haar familie het die internet aan die gons met ʼn video waar hulle tydens beurtkrag hul eie weergawe van ʼn koorstuk deur Pepper Choplin uitvoer.

ʼn Video van die spontane dog asemrowende uitvoering is binne enkele dae meer as 18 000 keer op sosiale media gekyk.

Leonard, wat saam met Babette Viljoen en Hilandi du Toit deel vorm van die Krog-trio wat die bekende digter Antjie Krog se gedigte toonset en uitvoer, vertel sy het die stuk “We are not alone” deur Choplin gehoor en gedink haar gesin en hul gades is die perfekte groep mense om dit saam uit te voer.

“Ons was verlede Donderdag almal saam met vakansie in Bloubergstrand en sowaar tref beurtkrag ons toe ons daar aankom. Dit was die gulde geleentheid om te kyk of almal hul gedeeltes geoefen het,” lag sy.

'n Skermgreep uit die video.

‘n Skermgreep uit die video.

Tot haar verbasing het almal, insluitend haar pa, John, haar ma, Nerine, haar suster Trudie en dié se man, Michael Prinsloo, asook haar susters, Inge en Helene en haar kêrel, Christian Malan, hulle dele geken.

“Babette was ook daar en ons het toe begin saam sing. Ons vriendin, Lize Beekman, het die volgende aand kom kuier en ons sê toe ons wil vir haar iets sing. Sy het so baie daarvan gehou dat sy wou hê ons moet dit weer sing sodat sy ʼn video daarvan kon neem.”

Dit is ook Beekman wat die video op Facebook gedeel het. “Ons familie is maar altyd aan die sing, maar dit was die eerste keer wat ons dit op dié vlak gedoen het sodat die mans hul eie stemgroepe moes sing,” vertel Leonard.

“Ek kan nie help om te wonder of julle dit sal glo nie,” het Beekman by die video geskryf. “Die een oomblik was ek nog besig om te lag, deel en kuier saam met pragtige vriende en familie tydens beurtkrag en die volgende oomblik sê hulle: ‘O, ons wou hierdie vir jou sing, ons het dit geleer toe die krag af was’.

Die Leonard-gesin en hul onderskeie gades. (Foto: Verskaf)

Die Leonard-gesin en hul onderskeie gades. (Foto: Verskaf)

“Ek kan in alle eerlikheid nie die woorde vind om te beskryf wat ek op daardie oomblik gevoel het nie, maar ek het hulle gevra om dit te herhaal sodat ek dit kon vasvang. Slegs twee dae gelede het ek geskryf daaroor om positief te wees ten spyte van die uitdagings en frustrasies in hierdie tye. Woorde is nie altyd nodig nie. Soms kan ons net voel,” het Beekman geskryf.

Volgens Leonard is haar pa, ʼn boer buite Kroonstad, en ma albei lede van die Deo Gloria-koor in die Vrystaat en is sy en haar drie susters van kleintyd af reeds almal besig met klavier- en tjellolesse. Haar ouma is die bekende pianis Olga Rademan en haar tannie, Erna Rademan, is die koordirigent van Deo Gloria.

“My susters se gades het ook almal musikale agtergronde, so ek hoef nie eers mooi te gevra het nie, almal het net saamgewerk. Nou wil hulle weet watse stuk doen ons volgende,” lag sy.

Krog, wat ook by die onlangse US Woordfees te sien was, het op verlede jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees gedebuteer en is met die toekenning vir beste musiekgedrewe produksie vereer.

Babette Viljoen, Hilandi du Toit en Olga Leonard van 'Krog'. (Foto: Verskaf)

Babette Viljoen, Hilandi du Toit en Olga Leonard van ‘Krog’. (Foto: Verskaf)

“Ons het ʼn klomp van Antjie se gedigte getoonset en doen ook voorlesings. Ons was self baie verras dat ons dié prys ingepalm het, want mense dink mos altyd digkuns is diep en donker, maar ek dink ons maak dit eintlik op ons manier meer toeganklik vir almal. Al is jy nie ʼn digter nie, kan jy steeds die produksie geniet.”

Sy vertel Krog het self nog nie die volle produksie gesien nie, maar dat sy ʼn hele paar van die getoonsette weergawes gehoor het. “Ons moes uiteraard haar toestemming kry en omdat sy ook van Kroonstad is, ken my ouers haar van hul skooldae. Sy het vir ons gesê ons is braaf om die produksie aan te pak en is baie positief daaroor.”

Die Krog-trio beoog om die res van die jaar nog met die produksie te toer na plekke soos Jeffreysbaai, Hermanus, Bellville en Stellenbosch en daar is ook ʼn binnelandse toer in die pyplyn. “Ons wil ook graag die stuk na Kroonstad vat, maar niks is nog vasgemaak nie.”

I can’t help wondering if you will believe this ????…but it happened. Not staged, not expected, it just happened. The one moment I was laughing, sharing, visiting with beautiful friends and family during a loadshedding stage, and the next moment they say: “oh, we wanted to sing you this…we learned it during a loadshedding stage”. And the next moment the Leonard family started singing. I can’t, in all honesty in this moment, find the words to describe what I felt and experienced, but I did ask them to please sing it again for I wanted to capture it. Just 2 days ago I wrote about also seeing the positive, in spite of all the obvious challenges and frustration in these times, and engaging with a family gave me yet another beautiful moment. Words aren’t always needed. Sometimes we just feel. I want to share this with you.

Posted by Lize Beekman (Official) on Thursday, March 21, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

IK ·

Pragtig!! Ook die woorde nie té veel, selfs ek sal dit kan onthou . . .

Namgrl ·

IK –> feit bly staan – hul het mooi gesing. Laat ons nou nie venynig raak nie.
Welgedaan familie.

Essa ·

???Bravo! Pragtig. En baba en hondjies deel in die mooi van die oomblik.

Stephan de S ·

Ja dit roer die hartsnare….die pragtige vrouestem teen die agtergrond vd ander stemme!

marietjie ·

Sjoe, dit is verskriklik mooi. Wat `n blessing om `n so te kan saam sing as `n gesin.

Barend ·

Onderskrif by foto: Die Leonard-gesin en hul gades – wat sou dit beteken?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Barend

Dankie vir jou terugvoer; ons het die onderskrif by die foto gewysig om dit duidelik te maak dat dit die lede van die gesin, elk met sy of haar huweliksmaat is.

Ek hoop dit is duidelik:)

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Stephan de S ·

Ai, ou Barend n goeie begrip het n halwe woord nodig?

Annamarie van der Merwe ·

Die harmonieë is pragtig. Dissonante wat suiwer oplos. Manne kon met meer oortuiging sing. Die kwaliteit en resonansie is daar. Suiwer sopraan. Hou so aan. Dis heerlik om as n gesin so lekker saam te kan sing en loof. ERE AAN GOD!

Rene ·

WOW dit is pragtig!! So ‘n stukkie mooi in die donker (letterlik en figuurlik). Die boodskap is net so mooi soos die sang!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.