Video: Juanita en haar kinders vier ‘liefde vir mekaar’

Juanita, Ruan en Franja (Foto: Facebook)

Aanhangers van die gewilde Du Plessis-gesin kan gereed maak om tydens die Kersvakansie vanjaar tou te staan wanneer dié sangers se eerste samewerkingsalbum uiteindelik uitgereik word.

Dié album is vervaardig op “groot aandrang” van aanhangers nadat die sangers Ruan Josh en Franja du Plessis in 2013 in hul ma, die sangeres Juanita du Plessis, se spore begin loop het. Hul debuutalbums, Eggo (Josh) en My verhaal (Franja), het van hulle kunstenaars uit eie reg gemaak.

Die sangers se samewerkingsalbum, wat Kaalvoetkinders gedoop is, word op 5 Desember uitgereik.

ʼn Verklaring van Juanita Records, die platemaatskappy wat die sangers se albums uitreik, sê dié album vier die gesin “se liefde vir mekaar”.

“Ná ʼn groot aanvraag het Juanita besluit om saam met haar talentvolle kinders ʼn samewerkingsalbum vry te stel wat twee splinternuwe liedjies bevat wat eksklusief geskryf is vir die album,” lui die verklaring.

“Ek het julle gesê ek het ʼn verrassing vir julle – en hier is dit nou,” het Juanita op Facebook geskryf. “Ons eerste saam as ʼn trio na soveel mense wat gevra het daarvoor. Ons het gevoel dis nou Kerstyd en familietyd en die album is iets spesiaal om vir julle te gee voor Kersfees.”

Die eerste enkelsnit vanaf die album, “Meer as ʼn melodie”, en die liedjie se musiekvideo word ook op 5 Desember saam met die album uitgereik. Dié liedjie is deur Juanita en Franja geskryf.

Vir meer inligting, besoek Ruan Josh, Franja du Plessis en Juanita du Plessis se Facebook-blaaie.

VERRASSING!!!! KAALVOETKINNERS!!

Hi almal!Ek het gesê ek het 'n verrassing vir julle… en hier is dit nou!!!Intussen is ek besig met die laaste paar Afrikaans is Groot vertonings die naweek en ek hoop om julle nog daar te sien!Lekker naweek julle! xRuan Josh Franja du Plessis #Kaalvoetkinners #Trio #Nuwealbum #Opgewonde #Blessed

Posted by Juanita du Plessis on Friday, December 1, 2017

Die gesin se samewerkingsalbum (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.