Video: ‘Jy kan breek, ons sal bou’

MD Greyling, omroeper en musikant, se splinternuwe snit “Veg en bou” is pas bekend gestel saam met die burgerregteorganisasie AfriForum se veg-en-bou-plan.

Die liedjie is uit Greyling se pen en vervaardig deur Ricus Nel by Hardekole Studios.

“Ek staan met my voete weerskante van twee wêrelde. Aan die een kant sien ek die dinge wat seer maak: Misdaad, moord, korrupsie, agteruitgang, diefstal en verskeie aanslae op ons kultuur en op Afrikaans.

“Aan die ander kant sien ek geleenthede, vooruitgang, self-doen en ʼn toekoms vir ons kinders, ons land en ons almal, mits ons besef dat hierdie dinge nie vanself gaan gebeur nie.”

Só verduidelik Greyling die inspirasie agter die liedjie. “Ek is ʼn Afrikaner, ek is trots en ek is dankbaar, maar belangriker, ek kies om te glo dat hierdie nie die einde is nie, maar wel die begin. Die liedjie lê my baie na aan die hart.”

“Veg en bou” spog ook met ʼn musiekvideo wat deur Forum Films geskiet en vervaardig is. “Die idee vir die lied het ontstaan oor die kontras wat ek tans in die land beleef en ons wou dieselfde kontras skep in die video, wat deel vorm van AfriForum se veldtog wat dieselfde visie deel om hoop te skep.”

Die veg-en-bou-plan bevat sewe kerndoelwitte en vyf oorhoofse fokuspunte wat AfriForum se prioriteite aandui in 2021 en die tyd wat voorlê.

“AfriForum se visie is om ’n toekoms te skep waar Afrikaners vry, veilig en voorspoedig hier aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan, in vreedsame naasbestaan en met wedersydse erkenning en respek,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

“AfriForum se missie bepaal hoe ons van voorneme is om hierdie visie te bereik. Dit staan breedweg op twee bene. Eerstens wil ons die bestaande werklikhede op ’n sinvolle manier beïnvloed. Tweedens wil ons nuwe ‘werklikhede’ skep deur selfstandige gemeenskappe en sterk gemeenskapsinstellings te bou en ondersteun. Hierdie plan kan in twee eenvoudige woorde opgesom word: ‘veg’ en ‘bou’.”

Volgens Greyling is dit vir hom ʼn groot eer om deel te was van so ʼn groot veldtog. “Ek is dankbaar dat ek die geleentheid en vermoë het om dit wel te kan doen, maar alle eer aan die Here wat dit moontlik maak.”

“Veg en bou” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Lees die volledige veg-en-bou-plan hier.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.