Video: Kom lag saam met Van Wyk Brand

Die sanger en musikant Van Wyk Brand het net een doel met sy splinternuwe enkelsnit getiteld “Mal saam” en dit is om luisteraars aan te moedig om in die argief van hulle goeie herinneringe te gaan delf.

“Ek hoop die liedjie lig luisteraars se gemoedere, want elke keer as ek dit sing, is ek sommer gevul met ’n gevoel van opwinding,” sê Brand oor dié snit.

Die musiekvideo is vandag (Woensdag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien. Volgens Brand vertel die liedjie die storie van die lawwe dinge wat mense saam doen.

“Die idee vir die liedjie het ontstaan ná ’n gesprek in my verhouding oor ons toekoms en dinge wat ons wil doen en bereik as ’n paartjie. Ons het besef dat ons darem lekker mal saam is, maar dat dit so ongelooflik is,” vertel hy.

Die musiekvideo vir die goedvoel-liedjie neem die kyker op reis deur verskeie persone se lewens en wys dat elke persoon ’n storie het en dat elkeen op hul eie manier uniek is.

Brand het in 2014 die Battle For The Breedlove-kompetisie, wat deur Justin Serrao aangebied is, gewen. Hy het “Hou my vas” opgeneem en kort daarna is sy Engelse debuutalbum, Winter and Spring, uitgereik.

Van Wyk Brand. (Foto: Facebook)

Brand het ook saam met Jason Finkel, bekende vervaardiger van New York, gewerk en “Let it out” opgeneem.

Aanhangers kan ook uitsien na Brand se EP, Herken, wat teen April vanjaar uitgereik sal word. Dié album sal vier oorspronklike snitte bevat.

“Ek hoop mense sal sommer dadelik weer besef dit is lekker om soms net spontaan te wees en hardop te lag. Dis lekker om net mal dinge aan te vang en dis altyd beter om dit saam met iemand spesiaal te kan doen,” het Brand vertel.

“Mal saam” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir die “Mal saam”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.