Video: Kurt Darren en sy vriende herleef ‘die goeie ou dae’

Kurt Darren. (Foto: Janie Monsieur)

Die sanger en Afrikaanse treffermaker Kurt Darren skroom nie om sy bekende vriende by sy projekte te betrek nie: Eers het hy vanjaar die Afrikaans Gaan Global- aanlyn musiekkonserte van stapel gestuur en nou het hy pas ʼn splinternuwe musiekvideo uitgereik waarin ʼn hele rits van sy bekende vriende te sien is.

“Die Goeie Ou Dae” handel oor die tyd toe die lekker dinge in die lewe, soos ʼn handdruk of ʼn braai saam met vriende, vanselfsprekend was.

“Dis nou toe ʼn geselligheid nog alledaags was. Toe kom die inperking weens die Covid-19-pandemie en ons almal moes van voor af leer hoe waardevol vriendskappe en familie is. Die goeie ou dae was eintlik nie so lank gelede nie, maar net aan die begin van 2020,” vertel Kurt oor sy jongste enkelsnit.

“Ek wou die klank nostalgies dog modern hou. Dis akoesties, maar bou op aan die einde van die liedjie tot ʼn crescendo waar almal saamsing. Ek wil die luisteraar los met ʼn positiewe, warm gevoel en hulle moet uitsien daarna om weer saam met hulle mense tyd deur te bring.”

Juanita du Plessis, die Campbell-broers, Ricus Nel, Elizma Theron, Franja du Plessis, Jo Black, Liezel Pieters, Martin Bester, Nicholis Louw, Ray Dylan, Robbie Kruse en Ruan Josh is in die musiekvideo vir die liedjie te sien. Die video is Vrydag bekend gestel en reeds bykans 20 000 keer op YouTube gekyk.

‘n Skermgreep uit die video vir ‘Die Goeie Ou Dae’.

Christian Wolf het die regie behartig. “Ek is al ʼn paar dekades lank vriende met baie van my makkers in die video en dan is daar ook ʼn paar met wie ek meer onlangs pelle geraak het. Dan was daar natuurlik ʼn paar wat dit nie kon maak nie en ek wens tog hulle was daar, want dit was ʼn baie spesiale aand vir almal wat betrokke was. My enigste voorwaarde vir die video was dat ons ʼn vleisie op die kole moes gooi en lekker gesels met mekaar, want dit is iets wat in ons almal se are vloei,” sê Kurt.

Volgens Kurt moet mense meer tyd maak vir mekaar se menswees. “Ek is absoluut mal oor my mense en soek enige verskoning vir ʼn lekker braai en om musiek te luister of te maak. Dit was nog altyd baie belangrik in my lewe.”

Die terugvoer oor “Die Goeie Ou Dae” van sy medekunstenaars en lede van die publiek is ongelooflik positief, sê hy.

“Ek is bly ek kon bydra tot ʼn positiewe einde vir 2020, maar ek moet bieg dat ek nie kan wag vir 2021 nie. Ek wens almal ʼn geseënde Kersfees en ʼn voorspoedige Nuwejaar toe.”

“Die Goeie Ou Dae” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.