Video: ‘Lewe se dolle gejaag’ inspireer nuwe musiekvideo

“Ek wil luisteraars bekoor met betekenisvolle lirieke, elektroniese klanke en treffende beeldmateriaal.”

Só sê Burgerd Botha, die Afrikaanse sanger wat bekendheid verwerf het as deel van die sanggroep Romanz, maar nou ’n solo-loopbaan najaag. Botha het gesels oor sy jongste solo-enkelsnit en musiekvideo, “Vat my huis toe”. Dié snit is vanaf sy jongste album, getiteld Hartlagsiel.

Hy het dié lied geskryf in samewerking met Oriison. Oriison is die verhoognaam van die skrywer en vervaardiger, Joshua Oosthuizen.

“As ons moeg en moedeloos raak vir die gejaag van ons moderne lewens, maak ons soms die mense wat ons die liefste het, die seerste,” vertel Botha oor sy inspirasie vir die lirieke.

“Dit word nie met opset gedoen nie, maar dit is bloot ʼn newe-effek van die druk waaronder ons verkeer. Die liedjie vertel die storie van iemand wat besef dat hierdie omstandighede sy geliefde in die spervuur geplaas het. Hy vra om verskoning vir die hartseer en beloof daadwerklike versoening om hulle verhouding weer te laat blom,” verduidelik hy.

Die musiekvideo is behartig deur Christian Wolf Visuals. “Ons het op die dak van ʼn woning in Pretoria geskiet toe ons besef dat die weer opsteek en kon toe skote van die weerlig vasvang,” vertel Botha.

“Ons moes blitsvinnig improviseer en het in die hitte van die oomblik ʼn paar lang aaneenlopende skote geneem, teen dubbel die spoed. Hierdie eksperiment het toe in ʼn unieke finale produk ontaard.”

“Vat my huis toe” en Hartlagsiel is aanlyn op iTunes, Google Play en Amazon beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.