Video: Riana Nel ‘oop en eerlik’ op nuwe album

Riana Nel (Foto: Verskaf)

Riana Nel wil met haar jongste enkelsnit, “Hou die hemel oop”, vir mense ʼn dieper kant van haarself en haar verhouding met die Here wys.

Die musiekvideo van “Hou die hemel oop” word vandag eerste op Maroela Media vrygestel. Dié video kan nóú onderaan die berig gekyk word.

Vir liefhebbers van Afrikaanse musiek is Riana Nel ʼn bekende naam. Dié donkerkop sanger en liedjieskrywer is ʼn beoordelaar op The Voice SA, is op elke groot verhoog te sien, en haar nuutste album, Sterker, het byna onmiddellik die nr. 1-posisie op iTunes ingeneem.

Nel het aan Maroela Media vertel dat dié album ʼn dieper kykie gee in haar eie struwelinge en hoe sy vashou aan God om daardeur te kom.

“Ek het die afgelope drie jaar nogal baie in myself getwyfel. In my vermoë om liedjies te skryf, en of my stem nog goed genoeg is, of ek nog goed genoeg is. Ek word nou 38, is daar nog ʼn plek vir my?

“Maar met hierdie album, en hoe goed hy doen, het ek net weer gesien die Here bly getrou al is ons nie getrou nie. Al twyfel ons, twyfel die Here nie in ons nie. As jy voel jy is nou oud en dit is verby vir jou, wil ek net vir jou sê: ‘The best is yet to come’. Hy het my kom wegblaas met die sukses van hierdie album,” sê sy.

“Hou die hemel oop” is ʼn lied wat Nel geskryf het by ʼn begrafnis van ʼn driejarige seuntjie wat verdrink het. Sy verduidelik dat dit daaroor gaan dat ons wat nog hier is, moet vashou aan die Here sodat die hemel vir ons kan oop bly. Dié liedjie is op haar nuutste album Sterker beskikbaar.

“Met die liedjie wou ek net mense laat dink aan vandag en die wete dat ons enige oomblik kom haal kan word. Is ons regtig reg met die Here? Maak ons regtig die beste van ons lewe? Daar is so baie troos daaraan as mens weet waaroor die hele lewe gaan.”

Riana Nel (Foto: Verskaf)

Aan die einde van die musiekvideo val Nel in die water, en sy beskryf dié gebaar as sy wat opnuut gebore word en opstaan saam met die Here. “Want dit is wat Hy vir ons wil hê eendag, dat al die pyn en lyding sal stop en dan kan ons in die paradys wees saam met Hom,” sê sy.

Hoewel Sterker nie ʼn gospel‑album is nie, sing Nel baie oor haar geloof. Sy sê sy skei nie haar Christenskap van haar beroep nie. “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor,” sê sy.

“Ek was al so baie in my lewe op plekke waar ek na mense gekyk het om my te help, waar hulle dan nie kon nie. Dít het my as jong dogtertjie laat vasklou aan die Here. Dié album gaan oor hoe ek deur die struwelings gekom het deur God wat my ʼn sterker mens gemaak het.”

Nel sê sy wou nie vir mense in “Hou die hemel oop” preek nie, maar dat sy eerder vir haarself preek en dat haar musiek 90% van die tyd op haarself gerig is en gaan oor plekke in haar lewe waar sy haarself bevind.

“Ek het gevoel dat die Here my nog liefhet, dat Hy ʼn plan het met my, dat Hy sy arms om my vou en dat Hy nog nie klaar is met my nie. Ek hoop ander mense voel ook so as hulle na die liedjie luister.”

Nel sê hoewel mense dink hulle weet dalk wie “Riana Nel” is, hulle baie meer oor haar kan leer in “Hou die hemel oop”.

“Mense sal meer kan leer oor wie ek is, my verhouding met die Here, en dít was my geloofstandpunt is. Dit is awesome om in ʼn land te wees waar ek kan sing oor die Here en die hemel, en dat mense oukei is daarmee dat ek eerlik is oor wie ek is.”

Kyk “Hou die Hemel oop” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

sherise ·

Riana,
Jy is voorwaar n inspirasie vir ons, en vir my. Hou asb aan skryf en sing, jy is nog lank nie klaar nie.
My Neef Ilan van Staden saam wie jy op The Voice mee saam gewerk het se dit was wonderlik om saam jou te werk. Jy het wonderlike talent, en jy inspireer daagliks.
Baie dankie vir jou harde werk.

HPV ·

Baie mooi, Riana is maar net een van die bestes met hope talent!

Skoolgeld ·

Riana, jy is die mooiste mens wat ek nog gesien het en het jou cd gekoop net na ek jou stem eerste keer gehoor het. Jammer dat jy nie in Texas gebly het nie, jy sou soveel meer uit jou nate uitgebars van geluk daar sou ek sê! Moet nooit ophou sing nie asb?

hercu ·

mooi was nog nooit lelik nie
alles in een sin saamgevat!

jy is ‘n stêr!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.