Video: Teaterstuk weerspieël Coenie se liefde vir Karoo

Deon Meyer en Coenie de Villiers. (Foto: Gareth van Nelson/rooi rose)

Karooliefhebbers en teatergangers kan uitsien na Coenie de Villiers en Deon Meyer se Karoo Suite 2: Karoonagte, wat eersdaags in Kaapstad en Johannesburg op die planke is.

“Ons is honger om te speel en mense is verskriklik entoesiasties om dit te hoor,” sê De Villiers. Hy het onlangs in ʼn video-onderhoud met Maroela Media vertel waarin die bekoring van die Karoo vir hom lê.

“Die Karoo is vir my – en hoe ouer ek word, hoe meer is dit so – soos alles wat outentiek en eerlik is in hierdie land,” sê hy, en voeg spottend by: “Dit is ook vir my ʼn bietjie soos ʼn onaantreklike vrou met ʼn fantastiese persoonlikheid. Hoe langer jy haar ken, hoe mooier word sy – en dan, eendag, kyk jy na haar en sy is onweerstaanbaar.”

De Villiers en Meyer ken mekaar bykans 40 jaar en deel ʼn besondere liefde vir die Karoolandskap en sy mense.

“Wat my so geweldig lief maak vir die Karoo is die landskap, sy mense en die stories wat ʼn mens daar vind. En dit vorm dan die kern van ons produksie,” sê Meyer aan Maroela Media.

Karoo Suite 2: Karoonagte is ʼn meesterlike kunswerk wat saamgestel is uit Meyer se Karooverhale en De Villiers se musikale verwerkings. Hulle deel die verhoog met die kitaarspeler, Mauritz Lotz.

Die aanbieding word aangevul met foto- en videomateriaal van die Karoo-landskap wat deur die National Geographic-span en Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) verskaf is, asook animasiewerk deur Diek Grobler.

Coenie de Villiers kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Weens die Covid-19-pandemie is alle vertonings vir Karoo Suite 2: Karoonagte kort ná die bekendstelling by die US Woordfees in 2020 gekanselleer. Dit is intussen vir televisie verfilm en kaartjies vir dié vertonings is op die Karoo Suite-webwerf te koop.

Nou kan gehore hulle vere regskud vir twee speelvakke van Karoo Suite 2: Karoonagte wat in November plaasvind. Die produksie is van 1 tot 12 November by Theatre on the Bay in Kampsbaai te sien en dit wys van 16 tot 27 November by die Pieter Toerien-teater in Johannesburg. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Watter gedagte kom by Coenie de Villiers op wanneer hy die woord “Karoo” hoor en wat is dit van dié landskap wat hom so aangryp? In hierdie video antwoord hy ʼn paar van Maroela Media se vrae:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.