Video: TiNo sing liefdeslied by Voortrekkermonument

TiNO (Foto: Klara Design & Photography)

TiNo het die akkerbome van Stellenbosch vir die Jakarandabome van Pretoria verruil, maar darem net vir een musiekvideo.

Dié 21-jarige Kaapse sanger het ’n draai in Pretoria gemaak om die musiekvideo van sy nuwe enkelsnit, “Seisoene”, by die Voortrekkermonument te skiet.

“Ek vrek oor ʼn love song,” vertel hy oor dié nuwe liedjie, wat eintlik vir twee meisies geskryf is.

“Die eerste twee maande is vir een meisie, en die laaste vir ʼn ander meisie,” erken hy.

Die liedjie gebruik die verskillende seisoene van ʼn jaar om dié twee meisies te beskryf. Hy voel geëerd om die musiekvideo van dié liedjie nie net in Pretoria te kon skiet nie, maar by die Voortrekkermonument, hoewel hy nog nooit self die monument besoek het nie.

Tog, toe hy die imposante monument teen die heuwel gewaar, het hy onmiddellik ʼn warm gevoel in sy hart gekry.

“Dit is ʼn baie spesiale plek, met groot, spesiale geskiedenis. Net om my voete hier te kon neersit is spesiaal.”

Hy vertel verder dat hy al soveel oor die monument gelees en geleer het, en dat dit vir hom ʼn voorreg is om nou dié geskiedkundige gebou in lewende lywe te kon sien.

Alhoewel Kaapse bloed deur sy are vloei, geniet hy dit om nou en dan sy tasse te pak en die langpad Pretoria toe aan te durf.

Hy beskryf Gauteng-inwoners as gelukkige, maar vinnige mense. ʼn Aanpassing wanneer hy hulle vergelyk met die rustigheid van die Kapenaars waaraan hy gewoond is.

Tog geniet hy dié gejaag en oorweeg dit selfs om eendag na die Jakarandastad te verhuis.

“Die mense hier is lekker!”

Kyk hier na Maroela Media se kuiertjie agter die skerms van TiNo se “Seisoene”-musiekvideo:

Kyk TiNo se musiekvideo van sy jongste enkelsnit, “Seisoene”, hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.