Voel jy dit?- Anrika

Dit is seker byna tien jaar dat ons die eerste keer met Anrika kennis gemaak het.

Sy het ‘n groot treffer met die Fredi Nest-komposisie Hou my vas gehad, maar net twee albums vrygestel voordat sy oënskynklik van die musiektoneel verdwyn het. Intussen is sy met die akteur Alvin Bruinders getroud, en het ‘n nuwe CD-kontrak gekry. Haar derde album, Voel jy dit, is onlangs vrygestel.

Die eerste ding wat jy sien as jy na die CD-omslag kyk, is Anrika se nuwe voorkoms. Sy het haar natuurlike blonde hare pienk gekleur, en hoewel dit ‘n kwessie van persoonlike smaak is, wonder ‘n mens of dit enigiets meer is as ‘n belaglike foefie wat gou sal oorwaai nie. ‘n Mens wonder trouens of jy die CD objektief kan beoordeel en of ‘n mens haar ernstig kan opneem.

Die eerste snit op die album, Droomland, is deur Anrika en die jong sanger Roux Cloete geskryf, en ‘n mens moet eerlik wees, dit  is ‘n baie goeie snit.  Die musikale verwerking is deur Byron Kuntz gedoen, en soos ‘n mens kan hoor, weet hy wat hy doen.  Die Innibos-kunstefees op Nelspruit (of is dit al Mbombela?) het vanjaar sy tiende bestaansjaar gevier, en ter viering daarvan het Anrika ‘n baie goeie temaliedjie geskryf.  Dit is die eerste groot Afrikaanse kunstefees waarvoor daar ‘n temaliedjie geskryf is, en ‘n mens wonder wanner KKNK en Aardklop sal volg.  Roux Cloete het die titelsnit, wat ook die eerste treffer is, geskryf. Dis net moeilik om te verstaan hoekom dit nodig was om die belaglike woord “baby” in die lirieke te gebruik. Engel is nog ‘n snit wat Roux en Anrika saam geskryf het, en weer eens is dit ‘n baie goeie snit wat ‘n treffer kan word.  Crash boom bang is deur Waldo Greeff geskryf, en is in Engels en in Afrikaans geskryf. Die klank op hierdie snit is dalk ‘n bietjie té elektronies en ‘n mens wonder of dit nie een van daardie liedjies is waarvoor ‘n mens gou moeg sal word nie. Aan die ander kant kan dit haar die geleentheid gee om radiolugtyd te kry op radiostasies wat nie gewoonlik Afrikaanse musiek speel nie. Nog ‘n snit wat deur ‘n jong liedjieskrywer gekomponeer is, is Net ‘n oomblik, uit die pen van Arri Opperman. Dit is dalk een van die beste snitte op die album.

Ettienne Steyn is ‘n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer, maar ons het lank laas van hom gehoor. Daarom is dit goed dat Anrika besluit het om die titelsnit van een van sy albums, My sonskyn, op te neem.  Haar weergawe is trouens so goed dat dit van voor af ‘n treffer kan word.  Soutwatersoene is nog ‘n komposisie van Anrika en Roux Cloete.  Hulle was ook verantwoordelik vir Hoe ver, nog ‘n snit wat ‘n treffer kan word. Anrika het ongelukkig besluit om ‘n keurspel van 1980’s-treffers in te sluit. Die probleem is dat sy vier holrug geryde liedjies gekies het, waarvan een oorspronklik uit die 1960’s dateer. Wie ook al die omslagaantekeninge geskryf het, weet ook nie wie Eric Carmen is nie. Hungry eyes was ‘n treffer vir hom, en nie, soos die aantekeninge sê, Eric Clapton nie. Hierdie tipe foute kan nie goedgepraat word nie. Twee Belinda Carlisle-treffers is volgende op dié keurspel, naamlik Heaven is a place on earth en Leave a light on. Die laaste liedjie is I think we’re alone now, wat oorspronklik in die 1960’s deur Tommy James and the Shondelles gesing is, maar in die 1980’s ‘n baie groot treffer vir die destydse tienersangeres Tiffany was.  Anrika se eerste groot treffer was Hou my vas, wat deur Fredi Nest gekomponeer is. Om een of ander rede het sy besluit om dit ook op hierdie album in te sluit, en ‘n mens wonder of dit regtig nodig was.  Daar is soveel ander goeie snitte op die album dat dit onwaarskynlik is dat dit weer ‘n treffer sal wees. Buitendien het die vorige opname soveel beter geklink. Die Afrikaanse weergawe van Crash Boom Bang klink nie sleg nie; ‘n mens moet maar sien watter en ‘n treffer gaan word. Net hier by my is deur Vaughan Gardiner geskryf, en is oorspronklik deur die Radio Rippel en Groot FM-omroeper Riaan Grobler, wat ook al ‘n paar CD’s vrygestel het, opgeneem. Anrika het Mamma geskryf het, en sy dra dit aan haar eie ma, asook alle ma’s, op.  Die volgende snit is ‘n verrassing; Somewhere over the rainbow  is oorspronklik in 1939 deur Judy Garland in die rolprent The wizard of Oz gesing, en Anrika het besluit om dit in ‘n keurspel saam met Louis Armstrong se baie bekende What a wonderful world op te neem. Deon van der Merwe het die musikale verwerking van hiedie snit gedoen, en dit klink besonder goed. Die laaste snit, Ek wag net vir jou, is deur Arri Opperman geskryf, en gelukkig is dit nie ‘n “weggooisnit” nie. Dis trouens jammer dat dit aan die einde van die album voorkom.

Ek moet eerlik wees: ek was anvanklik nie seker wat om van hierdie album te maak nie. Dit is duidelik dat  Anrika dit op ‘n jonger gehoor gemik het, soos haar nuwe voorkoms bewys, maar dit beteken nie dat ouer luisteraars dit heeltemal onuitstaanbaar sal vind nie.  Die musikale verwerkings daarop is oor die algemeen baie goed, en ten spyte van die kritiek wat ‘n mens teen die album kan lewer, is dit die moeite werd. Anrika behoort gewilder as ooit te word, veral noudat een van ons land se voorste platemaatskappye haar ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae