Waardevolle pryse, ervaring op die spel vir jong akteurs

Argieffoto. (Foto: Bruno Cervera/Unsplash)

Sertifikate, medaljes en kontant is net ʼn paar van die waardevolle pryse wat op die spel is met die Proscenium Dramakompetisie, ’n splinternuwe inisiatief van die Tribuo-fonds wat die doelwit nastreef om bemagtiging in die kunste te bevorder.

Individue van gr. 8 tot 12 wat belang stel in die kunste word uitgenooi om deel te neem aan die kompetisie. Talent, passie en tegniese vermoë is al wat tel en alle amptelike tale is welkom.

Dié veeltalige kompetisie skep vir deelnemers die geleentheid om individueel in te skryf en hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef. Hoërskoolleerders kan self inskryf, óf deur hul skole óf onafhanklike drama-opleidingsinstansies.

RSG en kykNET sal ook uitblinkers kies uit die finaliste om in ʼn radiodrama te speel en ʼn gasverskyning in ’n TV-sepie te maak. Overklank Ateljees gaan ook ’n belowende finalis nooi om aan ʼn oorklankingsprojek deel te neem.

Boonop kan die gr. 12-finaliste aansoek doen vir ʼn WOW-studiebeurs aan die Universiteit Stellenbosch, en daar is nog ʼn beurs vir studie aan Northlink College beskikbaar.

Die hoogtepunt waarna finaliste kan uitsien, is om ingesluit te word in die geselskap van ʼn professionele verhoogproduksie wat onder leiding van bekende regisseurs en akteurs by drie kunstefeeste, die US Toyota Woordfees, Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Suidoosterfees, uitgevoer gaan word.

Organiseerders aan die stuur van die kompetisie beskik oor meer as 30 jaar se ondervinding in drama-opleiding en het al vele soortgelyke kompetisies suksesvol aangebied.

Professionele mentors staan gereed om deelnemers te ondersteun met raad en leiding.

“Mentorskap en opleiding speel ’n groot rol in die kompetisie,” sê Herman van der Westhuizen, wat by Proscenium-reëlings betrokke is.

“Deelnemers ontmoet suksesvolle professionele akteurs en ervare mentors, en hulle gaan skouers skuur met eendersdenkende kulturele en diverse uitblinkers in die land. Tydens die finale rondes wat in Kaapstad se Kunstekaapteatersentrum gaan plaasvind, sal daar beslis vriendskapsbande gesmee word, en skoliere gaan deel word van nuwe kreatiewe netwerke wat oor die hele land strek.”

Die Tribuo-fonds is tydens die Covid-19-pandemie gebore uit die behoefte om noodbystand aan werkers in die vermaaklikheidsbedryf te verleen.

“Noudat die pandemie-krisis grootliks verby is, is Tribuo se doelwit om as ’n blywende hulpbron steeds geld in te samel en projekte van stapel te stuur om kunstenaars reg oor Suid-Afrika te dien,” sê dr. Leslie van Rooi, direkteur van die fonds.

Tribuo se missie is om uitvoerende kunstenaars en tegniese ondersteuningspersoneel te bemagtig deur werk te help skep vir ’n volhoubare toekoms, sê Van Rooi.

Die Proscenium Dramakompetisie is een so ’n projek wat nou van stapel gestuur word. Karen Meiring, Tribuo se uitvoerende voorsitter, beaam Van Rooi se woorde.

“’n Belangrike oogmerk is om in die toekoms en die gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf te belê, en juis daarom die jeug bekend te stel aan die wêreld van die uitvoerende kunste. Kulturele belewing speel ’n deurslaggewende rol in die vorming van volronde jongmense wat ’n bydrae tot die samelewing gaan lewer.”

Die uitdunrondes skop in Februarie in verskeie sentra in al nege provinsies af, waarna die finaal vanaf 9 tot 11 Mei by die Kunstekaap sal plaasvind.

Hoe werk die rondes?

Vir die uitdunronde gaan deelnemers ʼn gedig en ʼn uittreksel uit ʼn prosawerk van sy of haar keuse voorberei, asook ʼn kort improvisasie doen met ʼn onderwerp wat deur die beoordelaar verskaf word. Altesaam 60 deelnemers sal deurdring na die volgende ronde.

Die eerste ronde behels die uitvoering van ʼn monoloog uit ʼn toneelstuk wat nie langer as vyf minute is nie. Die beoordelaars kies dan altesaam 30 deelnemers aan wat deurdring na die tweede ronde.

Daar word die gedig en uittreksel van die uitdunronde herhaal en altesaam 16 deelnemers word dan gekies.

Ronde drie is die opwindende radio-oudisie by RSG se ateljees in Seepunt, die oorklankingsoudisie by Overklank Ateljees en die verskyning in ʼn toneel op die stel van kykNET se sepie, Suidooster. Altesaam agt deelnemers sal dan gekies word vir die vierde en finale ronde.

ʼn Goedgebalanseerde program van maksimum 12 minute word opgevoer, met klem op verskeidenheid en wisseling in aanbieding. Die program kan ’n sentrale tema hê en daar mag gebruik gemaak word van poësie, prosa, drama, sang, mimiek en kommentaar (skakelteks), indien nodig. Items uit vorige rondes mag gebruik word.

Inskrywings word aanlyn gedoen by www.proscenium.pro. en die inskrywingsfooie beloop R200 per item. Die sluitingsdatum is 26 Januarie 2024. Navrae kan gerig word aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.