Wêreldbekende tenoor kom na SA

Ray Chenez

ʼn Fees vir die oor wag op Gautengse musiekliefhebbers met die internasionale operasanger Ray Chenez wat by twee eksklusiewe geleenthede in Pretoria optree.

Die konserte met ʼn Broadway-tema is op 16 en 17 Augustus in Time Square by die Maslow Sun Hotel in Menlyn, Pretoria.

Chenez, wat in New York gebore is, is ʼn bekroonde kontratenoor wat in produksies reg oor die wêreld optree – en nou is hy op pad na Suid-Afrika vir sy “BroadRAY”-vertoning.

Trek vir dié geleentheid aan as jou gunsteling-Broadway-karakter en staan die kans om deur Chenez aangewys te word as die bes geklede BroadRay-koning en –koningin, én om pryse te wen.

“BroadRAY” is ʼn seldsame geleentheid vir fynproewers én aanhangers van musiekteater om die talent van ʼn wêreldklassanger te ervaar.

Meer oor Ray Chenez

Chenez het studeer aan die New York- asook die Florida-staatsuniversiteit. Opera News het dié jong kontratenoor as een van die opkomende sterre van die volgende geslag voorgehou. “Ray Chenez se kontratenoorstem is onverskrokke en selfgeldend, maar ook verwelkomend en strelend. Hy het ʼn natuurlike elektriese teenwoordigheid en sy frasering is presies, ongeag hoe hoog hy sing.”

Chenez het in 2014 die George London-prys verower en is wêreldwyd in aanvraag. Opera Britannia beskryf hom as ʼn “dramatiese sopraanstem wat oorloop van potensiaal”.

Hy het sy debuut in die Oper Frankfurt in die 2018/19-seisoen gemaak as Irina in ʼn nuwe produksie van Peter Eötvös se Tri Sestry (Drie susters). Ander rolle wat hy vertolk het sluit in dié van Mirtillo in Il pastor Fido en Narciso in Agrippina, albei van Handel.
Besonderhede oor “BroadRAY”:

Datums: 16 en 17 Augustus 2019

Tyd: 18:30

Plek: The Maslow Hotel, Time Square, Menlyn

Kaartjies kan hier gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.