‘Suidooster’ hou Kaapse makietie

Loukmaan Adams gaan feesgangers se voete laat jeuk in Die liedjiemakers by die Suidoosterfees se inryteater. (Foto: Verskaf)

Die Suidoosterfees en kykNET se gewilde Suidooster-sepiesterre span kragte saam om van 2 tot 8 November ʼn onvergeetlike inryteaterprogram aan die publiek te bring. Soos verlede jaar word dié feestelike ervaring by kykNET Atlantic Studios in Milnerton, Kaapstad, aangebied.

“Ná die suksesvolle aanbieding van verlede jaar se inryteater het ons besluit om dit vanjaar weer aan te bied. Om vermaak op die planke te bring stel ons in staat om geleenthede vir kunstenaars te bied,” sê prof. Brian Figaji, die Suidoosterfees se direksievoorsitter. Hy verduidelik dat die inryteater-konsep in 2020 ontstaan het nadat die Covid-19-pandemie teateropvoerings in die wiele gery het.

Jaco Loubser, vervaardiger van Suidooster, is opgewonde oor die moontlikhede wat dié inryteater bied.

“Die fees en Suidooster het ʼn noue verbintenis en met die inryteater kan ons televisie, teater en die rolprentmedium gebruik om kreatief te wees. Namens die Suidooster-akteurs nooi ek een en almal om skouers met hul gunstelingkarakters te kom skuur.”

Feesgangers sal elke aand by die inryteater deur hul gunsteling- Suidooster-sterre verwelkom word. Op 2 November vier dié kykNET-sepie sy sesde verjaardag met Suidooster-makietie. Buiten lekker losit-vermaak gaan daar ʼn spesiale episode op die groot skerm gewys word en boonop kry elke voertuig ʼn geskenkpak ter waarde van R600. Die opbrengs van kaartjieverkope word aan die Rooikruis-kinderhospitaal se Children’s Hospital Trust geskenk.

In Die liedjiemakers wat op 3 November plaasvind sluit bekende musikante hulle op die verhoog aan by jong nuwe stemme wie se talent tydens die Suidoosterfees en die Jakes Gerwel Stigting se liriekskryfmentorskapprojek geslyp is.

Frazer en Deniel Barry, Earl Witbooi, Ramon Alexander, Llewellyn Adonis, Natasha van der Merwe, Loukmaan Adams, Eden Classens, Jerome Rex, Jodi Jantjies, Breyten Treurnicht, Brumelda Bell, Nicol Klopper, Gabriel Plaatjies en Naaim Briesies is almal in Die liedjiemakers te sien.

Maurica Paige, Schalk Bezuidenhout en Jawaahier Peterson is almal deel van die Suidooster-makietie. (Foto’s: Verskaf)

ABBA se grootste treffers word op 4, 5 en 6 November uitgevoer wanneer Gary Naidoo, Riyaan Cornelius, Janine Cornelius, Jon-E, Celest Dreyer en JJ Petersen gehore in Dancing Queen op ʼn musikale reis na die diskovloere van die 70’s en 80’s neem.

Mense wat lus is vir lekker lag moet nie Lag my kla’ op 8 November misloop nie. Dié aanbieding sluit vanjaar die fees se ontwikkelingsprojek vir jong grapjasse wat deur ervare hande gementor word, op ʼn skreeusnaakse noot af. Die Lag my kla’-kompetisiewenners wys hul staal saam met komediante soos Shimmy Isaacs, Francois van As, Lunga Tshuka, Schalk Bezuidenhout, Wynand Kotze en Dean Smith.

Gehore gaan in die gemak en veiligheid van hul motors na produksies op die silwerskerm kan kyk. Produksies word regstreeks op ʼn buitelugverhoog aangebied en opgeneem. Inryteatergangers skakel dan in hul motors op ʼn FM-radiofrekwensie in om na die klankbaan van produksies te luister.

Kaartjies vir die vertonings wat van 2 tot 8 November by kykNET Atlantic Studios aangebied word, is by Computicket beskikbaar. Die Suidoosterfees se inryteater-inisiatief word moontlik gemaak deur die samewerking van die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; kykNET; Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (Nati) en die Jakes Gerwel Stigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.